Die ouers van die vermiste Britse meisietjie Madeleine McCann se stryd teen ’n senior Portugese speurder het weer bloedneus gekry. Die speurder beweer hulle het hul dogter se verdwyning vervals omdat sy in hul sorg gesterf het.

maddie

Kate en Gerry McCann het in 2009 die eerste keer regstappe teen Goncalo Amaral gedoen omdat hulle sê sy boek, The Truth of the Lie, bevat lasterlike bewerings oor hulle. Dié veelbesproke boek was drie dae nadat die McCanns amptelik nie meer as verdagtes beskou is nie op die rakke.

Daarin onthul Goncalo fyn besonderhede oor die kleuter se verdwyning tydens ’n gesinsvakansie in Portugal in 2007. Hy beweer sy is dood en dat die egpaar die storie oor haar verdwyning bedink het om hulself te verontskuldig.

Goncalo het destyds die ondersoek na Maddie se verdwyning gelei.

Die McCann-egpaar het aanvanklik hul lastereis teen die speurder gewen, maar dit is onlangs deur ’n Portugese hof nietig verklaar.

Boonop het ’n hoër hof nou beslis dat hul appèlsaak teen dié besluit nie sal slaag nie.

“Dit was natuurlik ’n groot teleurstelling toe ons prokureurs die nuus met ons deel,” het Maddie se ouers gesê nadat die hof se jongste besluit onthul is.

Die hof het onder meer beslis die speurder het nie bedoel om lasterlik teenoor hulle te wees nie en dat die boek nie ’n persoonlike, onregverdigbare aanval op hulle is nie. Boonop word die verbod op die boek ook opgehef.

Kate en Gerry sal moontlik nou die speurder se regskoste moet betaal en kan selfs deur hom hof toe gesleep word.

Die hof het ook bygevoeg hulle is “nog nie formeel uitgeskakel” as verdagtes nie.

Bronne: Metro UK, AU News, Mirror