Kezia McAlpine se man, Kevin, was die tweede van drie slagoffers van die moorde. Hy en Anthony Scholefield (67) was albei versekeringsmakelaars wat die afgelope maand kliënte sou sien toe hulle spoorloos verdwyn.

So het Kevin 3 Julie 2014 die ja-woord gevra.

Albei se lyke is drie weke uitmekaar sowat 3 km van mekaar in hul motor se kattebak gevind. Die derde en laaste slagoffer was die eindomsagent Hanle Lategan (52). Haar lyk is by ’n spruit op die dorp gevind is. Al drie slagoffers se bankkaarte en ’n paar duisend rand is gebuit. Intussen is die 32-jarige Fabian Luff en Christiaan (Tiaan) Kruger (29) in verband met die moorde inhegtenis geneem.

“Ek het ’n kar nodig om te kom waar ek moet wees, maar dis vir my afgryslik om met die kar te ry waarin ek weet my man se lyk was,” sê Kezia McAlphine (26).

Sy is swanger met haar en Kevin se eersteling. Haar kraamdatum is vroeg in Augustus. “Sy naam gaan Daniel wees,” sê sy.

Kezia het so die wonderlike nuus van haar swangerskap op 22 Februarie 2016 op Facebook gedeel.

kezia

“Ek en Kevin het saam besluit op die naam. Ons het ’n kortlys saamgestel en toe hou ons albei van die naam.” Kezia moet gereeld die ginekoloog besoek en daagliks na ’n privaatskool toe ry waar sy ’n tydelike pos as onderwyseres het.

“Ek en Kevin het die kar gedeel. Dit is op my naam en al wil ek graag daarvan ontslae raak en ’n nuwe een koop, kan ek nie omdat die kar nog afbetaal word.”

Kezia sê sy kan ook nie nog skuld maak nie omdat sy ’n tydelike pos het en nie kan bewys sy het ’n vaste salaris nie.

Sy en Kevin het saam ’n huis gehuur op die dorp, maar sy kan nie meer alleen die huur bekostig nie en moes intussen by haar ma-hulle intrek. “Ons kry darem baie ondersteuning van vriende en familie, en my ma se huis is ruim en ideaal vir ’n babatjie.”

Intussen het barmhartige samaritane ingegryp om Kezia en haar ongebore babaseuntjie te help.

Die nieregeringsorganisasie Silver Wishes op Krugersdorp het besluit om ’n fondsinsamelingskonsert vir haar te hou sodat sy haar seuntjie kan ondersteun wanneer hy die dag sy opwagting maak.

“Ons het besluit om vir Kezia te help omdat haar stryd ons so geroer het. Niemand verdien om deur sulke lyding te gaan nie,” sê Deon Swanepoel, voorsitter van Silver Wishes.

Die konsert se tema is 90’s Mania en treffers van die 1990’s sal in die Barnyard-teater in Cresta aangebied word.

“Ek is baie dankbaar vir al die ondersteuning wat mense my bied. My kind gaan klaar sonder een ouer moet klaarkom. Ek wil ten minste as ’n enkelouer vir hom die beste lewe kan bied wat ek kan.”

Sy sê sy het nog nie ten volle haar man se dood aanvaar nie. “Ek sal nooit verstaan hoe iemand anders kan besluit of jy leef of sterf nie,” het sy hartseer oor die foon gesê. Kruger en Luff sal na verwagting Dinsdag weer in die landdroshof op Krugersdorp verskyn op drie aanklagte van moord, waar hulle sal kan aansoek doen om borgtog. Om kaartjies te bespreek vir die fondsinsamelingskonsert, gaan na www.silverwishesnpo.org.za. Save