“Die galblaas het infeksie, wat verder versprei het. Dokters wou vandag opereer om die galblaas te verwyder, maar ons het so pas verneem dat die infeksietelling te hoog is en dat dit dus te gevaarlik is,” het Zinta Kymdell, Rikus se agent, oor sy toestand gesê.

“Rikus word tans met antibiotika behandel en ontvang steeds morfien vir die pyn. Hy is steeds kritiek, en nog nie buite gevaar nie. ”

“Hy drink ook waterpille omdat sy liggaam te veel water terughou,” het sy bygevoeg.

Rikus het die afgelope Maandag ’n virus opgedoen nadat hy ’n buikoperasie ondergaan het. Die virus het hartversaking veroorsaak wat verder sy organe laat verswak het, het Huisgenoot verlede Donderdag verneem.

“Daar is heeltyd veranderinge aan Rikus se toestand en hy is steeds in intensiewesorgeenheid,” het Zinta Maandag gesê.

Sy het Vrydag vertel dat Rikus ook dialise-behandeling ontvang het en goed daarop reageer het. Rikus sou verlede Dinsdag, die tweede operasie om sy galblaas te verwyder ondergaan, maar sy toestand was toe reeds te kritiek.

Rikus het in November 2016 in ’n onderhoud aan Huisgenoot gesê hy streef daarna om gesonder te leef omdat hy na sy hart moet kyk.