Die voorval het ongeveer 12:20 Maandagoggend buite die Moslem-welsynshuis naby die bekende Finsbury Park-moskee plaasgevind. Moslem-gelowiges was besig om huiswaarts te keer ná gebruiklike laatnag-gebede tydens Ramadaan.

“Daar was ’n ou man wat (by die bushalte) op die grond gelê het,” vertel Abdulrahman Saleh Alamoudi, ’n ooggetuie. Hy en sy vriend het onder diegene getel wat hulp aan die bejaarde probeer verleen het. Volgens hom het dit verskeie mense se aandag getrek en hulle het nader gestaan.

Toe hoor hulle die voertuig nader kom. Vinnig. En jaag binne-in die groep vas. 

“Die man het uit die voertuig geklim, nog een agter hom,” vertel Abdulrahman. Hy was een van drie wat gehelp om die man vas te trek. Nog ooggetuies beweer hulle het minstens twee ander mans uit die voertuig sien vlug.

Abdulrahman beskryf die verdagte as ’n “sterk man, baie lank en groot”. Terwyl hulle hom op die grond vasgepen het, het hy glo geskree dat hulle hom moet doodmaak, want hy wil “alle Moslems doodmaak.” 

Die imam het ingegryp en versoek dat hulle nie die verdagte moet slaan nie, maar hom eerder aan die polisie moet oorhandig.

Die verdagte het na bewering die skare uitgelok nadat hy in hegtenis geneem is deur herhaaldelik te sê hy sal dit weer doen.

Nóg ’n ooggetuie, Mohammed Abdul sê die verdagte was nie dronk of iets nie. “Ek weet dit was doelbewus. Dit is ’n terreuraanval.”

Oproeriges het sake vir die polisie bemoeilik en chaos het geheers toe die verdagte in hegtenis geneem is. 

Die verdagte het boonop hul humeure nog hoër laat opvlam deur vir hulle 'n soentjie te blaas vanuit die vangwa.

Terreurdade in Londen

22 Maart, Londen: 'n Man ry doelbewus in voetgangers op die Westminster-brug vas. Vier sterf. Daarna klim hy uit die voertuig en steek 'n polisieman dood.

22 Mei, Manchester: 22 sterf toe 'n selfdoodbomdraer die Amerikaanse popster, Ariana Grande, se konsert in Manchester teiken.

3 Junie, Londen: 'n Voertuig jaag in voetgangers op die bekende Londen-brug vas, daarna koers dit na Borough Market. Sewe sterf toe drie aanvallers met messe gewapen, hulle aanval.

Bronne: usatoday.com, dailymail.co.uk, cnn.com, theguardian.com