Die spanmaats, Simon Good en Chris Kastern, gesels hieroor. 

Julle het goed gevaar, en is eers in die 10de aflewering uitgeskakel. Was dit ’n groot teleurstelling?

Simon: Beslis. Wat ons in die tyd geleer het, is van onskatbare waarde, en ons het meer  geloof in onsself gekry. Natuurlik het ons verwag ons sou verder gaan en dalk selfs wen.

Chris: Ek en Simon het ons grootste verwagtings oortref met hierdie ongelooflike Ultimate Braai Master-avontuur. Hoewel ons verpletter was dat ons nie die laaste paar bestemmings kon sien nie, is ons bly oor die wonderlike plekke wat ons kon besoek.

Wat het skeefgeloop?

Chris: Ons het beplan wat ons gedink het heerlike braaibroodjies sou wees. Ongelukkig was ons jafels eenvoudig nie lank genoeg op die kole nie en het nie ’n mooi bruin korsie gehad toe ons dit voorsit nie; beslis ’n groot fout in die uitdaging.

Hoekom het julle ingeskryf?

Simon: Nadat ons na die vorige seisoen gekyk het, het die ervaring te goed gelyk om mis te loop.

Chris: Toe oudisies vir die tweede seisoen begin, het Simon voorgestel ons skryf in. Ek het, sou my nie twee keer laat nooi nie. In die Kaap het ons nie ingekom nie, maar het nie moed opgegee nie. Ons is genooi na die oudisies in Port Elizabeth, en is toe deur na die tweede rondte se oudisies.

Wat was jul beste oomblik?

Simon: Kosgewys, beslis toe ons die wenpastei by die Tiffindell-uitdaging gemaak het. Reisgewys was dit altyd ons droom om die Wildekus te beleef.

Chris: Sonder twyfel die uitdaging op Mafa se dorpie in Lesotho, waar ons gebraai het om ’n hele dorpie te voed. Die kinders e gesigsuitdrukkings terwyl hulle geëet het, die uitnodiging na ’n tradisionele feesviering, die geleentheid om saam met die plaaslike mense koringbier te drink, saam met die inwoners van die dorpie rondom ’n yslike kampvuur te sing en dans.

Wat was jul grootste vrees tydens die kompetisie?

Chris: Nat hout en dat ons nie die volgende bestemming van die Ultimate Braai Master-reis kan sien nie.

Wat was die moeilikste uitdaging?

Chris: Toe ons moes braai op Rhodes in die Oos-Kaap. Ek en Simon het nie net nog nooit gehoor van die hoofproteïen vir die uitdaging, ’n bergpatrys, nie. Ons moes ook skilferkorsdeeg vir die pastei maak. Gelukkig het die West Coast Bros ons met ’n resep vir die deeg gehelp en ons het die uitdaging gewen. Dit was nogal ’n prestasie, want ons moes in die sneeu braai.

Hoe het UBM jul lewe verander?

Chris: Ek moet my gesin neem sodat hulle meer kan sien van hierdie ongelooflike land waarin ons leef; dis ’n land met mooi natuurskoon, ryk en uiteenlopende kulture, ’n ryk verskeidenheid bestemmings en heerlike, plaaslike braaikosse. Ek wil beslis my vrou en twee seuns na sommige van die plekke neem wat ons op die Ultimate Braai Master-reis beleef het.

Tydens die verfilming het julle van Suid-Afrika se mees ongerepte plekke besoek. Wat is jul gunsteling?

Chris: Die koraalriwwe van Sodwana. Ek het naby die kus grootgeword en hierdie plek bied alles waarvan ’n visserman van die Tuinroete kan droom.

Watter span was jul taaiste teenstanders? Simon: Die span wat ons “gevrees” het, was die West Coast Bros: altyd kalm, altyd rustig en die beoordelaars het altyd positief na hulle verwys. Caption: Simon Good en Chris Kastern