Die Kasi Guys het vir SABC3 se kompetisie Ultimate Braai Master (UBM) ingeskryf om te wys hoe ’n mens met ’n Kasi-kinkel kook. Hulle wou, indien hulle die wedstryd en R500 000-prysgeld wen, ’n kookskool op ’n plaas open. Klink goed!

Maar dit het nie volgens plan verloop nie. Hulle is gisteraand in die vierde aflewering van die seisoen uitgeskakel.

Dit was darem nie ’n groot teleurstelling om nie die uitskakel-uitdaging te wen nie, sê Martin Sebelebele (46), die braaimeester van die span Kasi Guys. “Teen daardie tyd was ons moeg en gedaan van die ses uur lange hoofuitdaging wat plaasgevind het net voor die uitskakel-uitdaging.”

Vir die hoofuitdaging moes die spanne ’n feesmaal vir die rolprentspan en gaste berei. Dit het ’n halwe bosvark, drie kwartels en twee forelle per groep ingesluit. Om die ete mee af te sluit moes hulle ’n gebakte nagereg voorsit.

Dadelik daarna het die verloorspanne – die Kasi Guys, Smoke, Sweat & Tears en West Coast Bro’s – begin met die uitskakel-uitdaging. Hulle moes die perfekte biefstuk braai. Die Kasi Guys se biefstuk was toe glad nie perfek nie, en dit was vir hulle die einde van die pad.

Hoewel hulle nie die groot prysgeld gewen het nie, het hulle tog R20 000 gekry. Dit kan hul droom om ’n kookskool te open help bewaarheid.

V&A aan die Kasi Guys:

V: Vertel ons meer van julle.

KG: Die braaimeester, Martin Sebelebele, en sy braaimaat, Ziza Masemola, is neefs. Albei werk in die spysenieringsbedryf in GaRankuwa, noord van Pretoria.

V: Wat was vir julle die hoogtepunt tydens die verfilming?

KG: Ons moet sê dit was die kanovaart, dit was ’n onvergeetlike ervaring. Die snaaksste was toe ons omtuimel en in die water beland!

V: Wat was jul grootste vrees?

KG: Absoluut niks nie.

V: Wat was die uiterste uitdaging?

KG: Om met geheime mandjies op geheime plekke te kook. Dis ’n uiterste uitdaging op sy eie omdat jy nie weet wat jy gaan gaarmaak en vir wie nie.

V: Watter buitelug-omgewing was jul gunsteling?

KG: By die Hluhluwe-wildtuin het ons die samekoms van rustigheid en die natuur diep in die berge van KwaZulu-Natal beleef.

V: Watter span was jul taaiste teenstanders?

KG: Team Spectacular omdat hulle meer gefokus en vasbeslote was.

V: Hoekom het julle ingeskryf?

KG: Ons het vir die UBM ingeskryf om ons kookvernuf aan die res van Suid-Afrika te toon.

V: Watter vleis maak julle die graagste gaar?

KG: Goed verouderde prima-beesrib omdat dit vol geur is. Ons is gek na braai – dis die maklikste manier om ’n maaltyd blitsig te berei.