Sandy Geffen, die vrou van die eiendomsgrootkop Lew Geffen, is in hegtenis geneem weens dwelmbesit.

Sandy, wat volgens Sotheby’s se webtuiste ’n uitvoerende direkteur by die maatskappy is, is op die Kaapstadse Internasionale Lughawe aangekeer nadat ’n klein hoeveelheid dagga in haar besit gevind is. Sy het blykbaar van Johannesburg na Kaapstad gereis.

“Ons het Donderdagoggend rondom 08 :15 ’n 67-jarige vrou met ’n klein hoeveelheid dagga in haar bagasie in hegtenis geneem,” bevestig die polisie se lt.kol. Andrè Traut aan Huisgenoot. Hy sê die dagga is gevind toe die polisie ’n roetine-ondersoek voltooi het.

“Sy is aangekla van besit van dagga en het Donderdag in die hof in Bellville verskyn, waar die klagte teen haar teruggetrek is,” sê hy. Sy gaan nie verder vervolg word nie.

[caption id="attachment_155967" align="aligncenter" width="180"]Sandy Geffen (Foto: Twitter) Sandy Geffen (Foto: Twitter)[/caption]

Sandy se prokureur, Leon van der Merwe, het by navraag gesê die saak is terug getrek en dat hy niks verder het om by te voeg nie.

Intussen het Jason Rohde, voormalige uitvoerende hoof van Lew Geffen Sotheby’s, Vrydagoggend in die landdroshof op Stellenbosch verskyn in verband met die moord op sy vrou, Susan. Sy is in Julie verlede jaar op die spoglandgoed Spier dood.

Kort ná Susan se dood het Sotheby’s vir Jason geskors. Met sy vorige hofverskyning het die hof hom toegelaat om terug te keer na Johannesburg sodat hy nader aan sy en Susan se drie jong dogters kan wees.

Vrydagoggend in die hof is sy borgtogvoorwaardes onder meer verander. Lees hier wat by sy jongste hofverskyning plaasgevind het.