’n Nuwe teorie oor die verdwyning van Maddie McCann maak weer opslae. Die speurder Goncalo Amaral wat tydens Maddie se verdwyning in diens van die Portugese polisie was, het met dié teorie vorendag gekom. Hy het selfs ’n boek oor Maddie se verdwyning geskryf waarin hy onder meer beweer dat haar ouers, Kate en Gerry, die sondaars is wat primêr vir Maddie se verdwyning verantwoordelik is.

Amper 10 jaar ná Maddie se verdwyning het Goncalo sy volgende skokkende bewering tydens ’n televisie-onderhoud gemaak: Maddie se lyk is in die kis van ’n Britse vrou versteek en veras . . .

Hy beweer die kerk waar Kate en Gerry gebid het, is die sleutel tot Maddie se finale verdwyning. Goncalo beweer daar was drie mense wat die kerk die aand van Maddie se verdwyning binnegegaan het. Hulle het ’n boks gehad en ’n Britse vrou sou veras word. Volgens hom het die ouerpaar sleutels tot die kerk gehad.

Op 3 Mei 2007 het ’n gesinsvakansie in Praia da Luz, Portugal, in ’n nagmerrie ontaard toe die Britse paartjie, Kate en Gerry McCann, aandete saam met vriende in ’n nabygeleë restaurant geniet het.

Hul drie kinders – ’n tweejarige tweeling en Madeleine – is sonder toesig in die vakansiewoonstel agtergelaat.

Luidens berigte het een van die personeellede van die vakansiewoonstel die ouers by die restaurant kom roep omdat een van hul kinders, in alle waarskynlikheid Madeleine, reeds vir langer as ’n uur en ’n kwart pleitend huil vir haar pa.

Dit was nege dae voor Madeleine, waarna in die vrye omgang met deernis as Maddie verwys word, se derde verjaardag.

Om 22:14 is die polisie na die vakansiewoonstel ontbied – dit was die begin van een van die grootste soektogte na ’n lewende wese in menseheugenis.

Maddie se ouers hoop ’n dekade later nog onverpoos dat die raaisel oor haar verdwyning wel opgelos sal word en dat die wolk van verdenking wat bo hulle koppe hang, sal verdwyn.

Een na die ander samesweringsteorie duik intussen gereeld op – dat sy die slagoffer van ’n pedofielsindikaat was, dat sy in lande so ver as Nieu-Seeland en onlangs Marokko gesien is, dat haar ouers vir haar dood verantwoordelik is en dat hulle van haar liggaam ontslae geraak het.

Goncalo se boek, The Truth of The Lie, het tot verskeie hofsake tussen die oud-speurder en die McCanns gelei. Hulle het hom van laster aangekla en die saak gewen. Op 9 September 2009 is die verdere verkope van sy boek verbied. Hy moes ook sowat R3,7 miljoen skadevergoeding aan hulle betaal.

Maar Goncalo het op sy beurt appèl aangeteken en op 19 April 2016 is die saak omgeswaai. Hy kan nou weer op sy beurt die McCanns vir skadevergoeding dagvaar.

Verskeie hofsake tussen die ouerpaar en die uitgesproke speurder het reeds derduisende rande gekos en diegene wat die pragtige dogtertjie se verdwyning gefassineerd volg, is in twee duidelike kampe verdeel – dié wat vir Goncalo glo en dié wat glo dat Kate en Gerry die magtelose slagoffers van omstandighede is.

Bloot die soektog na Maddie beloop meer as R190 miljoen, ’n bedrag waaroor Kate (49) haar verleentheid uitgespreek het. Haar man, Gerry (48), beskou enige kritiek oor die bedrag wat tot dusver oënskynlik vrugteloos spandeer is, as onbillik.

In Maart 2017 is daar nog sowat R1,5 miljoen bewillig om die soektog na Maddie tot September 2017 te verleng.

Assistent-kommissaris Mark Rowley van die Britse Metropolitaanse polisie sê hulle gee nog glad nie moed op nie.

Hulle het nou ’n kleiner ondersoekspan saamgestel wat “kritieke leidrade” rondom Maddie se verdwyning ondersoek. Hy het ook genoem dat dit nie in hierdie stadium nodig is om weer die ondersoek na haar ouers voort te sit nie.

Kate en Gerry - 1- jaar ná Maddie se verdwyning

 

Kitsfeite oor die sage

  • Sedert 2011 is daar 600 mense oor Maddie se verdwyning ondervra.
  • Meer as 40 000 dokumente is deur die Britse polisie gefynkam as deel van die soektog.
  • Haar ouers koop steeds jaarliks verjaardag- en Kersgeskenke vir haar.
  • Die gesin se tweeling, Sean en Amelie, is in Februarie 2005 gebore. Hulle is nou 12 jaar oud.
  • Maddie se kenmerkende regteroog-pupil staan bekend as ’n coloboma. Dis uiters raar en maak van haar een uit sewe uit ’n moontlike miljoen mense.
  • Gerry McCann het luidens berigte haar oogdefek as ’n handelsmerk registreer. Hy is ’n konsultant-kardioloog.
  • Kate was ’n algemene praktisyn, maar wy haarself nou aan kinderwelsynsorganisasies.