Boonop word gebruikers wat reeds dié selfone besit, aangeraai om dit dadelik af te skakel en op te hou om dit te gebruik.

’n Verklaring wat deur die maatskappy uitgereik is, dui aan “die gebruiker se veiligheid geniet die hoogste prioriteit en daarom sal Samsung alle vennote wêreldwyd versoek om verkope én die omruil van die Galaxy 7 Note te staak.”

Die verklaring volg nadat plaasvervanger-selfone ook die afgelope week aan die brand geslaan het. Maar die staking van die produk kring wyer uit as wat verwag sou word.

Lees ook: Slegte nuus vir Samsung-liefhebbers Oculus, die vervaardiger van die Gear VR-app, het ook nou halt geroep kort nadat die app opgradeer is om met die Galaxy Note 7 tred te hou. Diegene wat steeds hul Galaxy Note 7 vir die virtuele werklikheid-app sou wou inspan, gaan dit nie meer regkry nie. In die plek daarvan word die boodskap hieronder vertoon. Daarin word aangedui verbruikersveiligheid is ’n prioriteit vir Oculus en dat alle ondersteuning vir Note 7 vir eers van dié platform verwyder is.

Dit klink na ’n baie slim stap, veral wanneer in gedagte gehou word dat die Gear VR-app nie net reg voor die verbruiker se oë is nie, maar met ’n band aan die verbruiker se kop geheg word vir die duur van die gebruik daarvan.
Oculus se besluit om die Note 7 te blokkeer, word verwelkom.
Die laaste ding wat jy as verbruiker wil oorkom, is dat die selfoon wat binne-in die Gear-kopstuk geplaas is, sal ontplof.

Eienaars van ouer Samsung-modelle wat reeds met die Gear VR-kopstuk gebruik kan word, behoort nie dieselfde risiko te loop nie.

Bronne: engadget.com, independent.co.uk, pocketnow.com, gsmarena.com