Wat ’n luilekker matriekvakansie in die Wes-Kaapse vakansiedorp Plettenbergbaai moes wees, het dalk ’n lelike nadraai geneem vir die moordverdagte Jason Rohde se 18-jarige dogter.

Netwerk24 berig die grootbaas van Sotheby’s International Realty SA se dogter Kate is in die hospitaal opgeneem. ’n Betroubare bron het aan die nuuswebtuiste gesê sy het glo ’n oordosis dwelms geneem.

Kate (18) het haar skoolloopbaan vanjaar aan ’n Johannesburge skool voltooi.

Haar pa is vroeër in 2016 in verband met die moord op sy vrou, Susan, aangekla nadat daar aanvanklik gedink is sy het haar eie lewe geneem.

Susan is in Julie dood aangetref in die badkamer van hul hotelkamer op die Spier-wynlandgoed naby Stellenbosch waar Sotheby’s se jaarlikse konferensie plaasgevind het.

Jason is intussen op borgtog vrygelaat en verskyn 27 Januarie weer in die hof.

Hou Huisgenoot.com dop vir meer besonderhede oor die saak.