Die verfilming van Kim Kardashian se familiewerklikheidsprogram is uitgestel terwyl die ster van ’n gewapende rooftog herstel.

Die sosiale vlinder en entrepreneur is terug in Los Angeles nadat sy Maandag in die vroeë oggendure vasgebind en met vuurwapens in ’n woonstel in Parys aangehou is terwyl diewe juweliersware en selfone gesteel het. Haar program is vir eers gestaak.

“Kim se welstand is nou ons kernfokus,” sê ’n woordvoerder van E! – die netwerk agter Keeping Up with the Kardashians. “Geen besluit is geneem oor wanneer vervaardiging hervat sal word nie.”

Intussen het ’n bron na aan Kim aan die nuusprogram Entertainment Tonight gesê die werklikheidster is nog baie geskok ná haar vreesaanjaende ervaring.

“Dit het haar regtig geruk en haar hard met die werklikheid laat kennis maak,” sê die bron. “Sy raak steeds emosioneel wanneer sy aan die voorval dink.”

Kim het ’n aantal verpligtings gekanselleer terwyl sy haar lewe weer op koers probeer kry ná die rooftog. Woensdag het sy ’n verskyning by ’n grimeerklas in Doebai gekanselleer wat vir volgende week gereël was.

“Sy het ’n blaaskans van alles nodig,” sê die bron. “Werk en enigiets op sosiale media plaas, is nou laaste in haar gedagtes.”

Intussen gee die werklikheidster en haar man, Kanye West, ernstig aandag aan hul veiligheidsreëlings in die nadraai van die gewapende rooftog. Kim was alleen in haar woonstel toe die diewe, wat soos Franse polisiebeamptes aangetrek was, toeslaan. Haar belangrikste lyfwag het in daardie stadium elders in Parys na haar suster Kourtney gekyk.

© Cover Media