“Ek was vas oortuig dat dit dié keer ’n dogtertjie gaan wees, maar toe ons gister die sonar by die ginekoloog gedoen het, was daar geen twyfel dat nog ’n seuntjie op pad is nie,” het Aletté-Johanni Winckler bevestig. Sy is 13 weke swanger met haar en Heinz se derde kind.

Hulle is baie opgewonde oor die koms van die nuwe baba en hoewel ’n dogtertjie lekker sou gewees het, is ’n seuntjie perfek. “Dit gaan soveel goedkoper en makliker wees. Ek dink dogtertjies kom met hulle eie stres en uitdagings. Ek is nou al ge-gel met seuntjies.”

“Dit het heel toevallig so uitgewerk dat al ons kinders, wat natuurlik gebore is, rondom die dieselfde tyd gebore is – Lian (3) op 23 Mei, Simeon (17 maande) op 20 April, en nou is die verwagte datum vir die nuwe boetie, 19 Maart. En dit is totaal onbepland. Hulle is almal omtrent 23 maande uitmekaar. Die groot voordeel is dat al sy boeties se klere ook vir hom sal pas.”

Lian het sy hart gesit op ’n sussie en was nogal teleurgesteld, maar Aletté het vir hom verduidelik hoe lekker hulle gaan speel. “Hy het tans ’n groot fokus op klein, medium en groot; so toe het ek vir hom verduidelik dat hy die groot boetie gaan wees, Simeon die medium en die nuwe een die kleintjie,” lag Aletté.

- Suzanne Venter