Astrid Lippert-Fisher (33), die Muizenberger wat verlede jaar die naaswenner was van Saktyd, Huisgenoot se werklikheidsreeks op kykNET, is in die wolke nadat sy nog ’n strawwe werkaansoek by die land se gewildste tydskrif oorleef het en nou aangestel is as die nuwe adjunk-leefstylredakteur van die tydskrif.

Ons gesels met Astrid oor die deure wat ná Saktyd vir haar oop- en toegeswaai het, hoekom sy weer by Huisgenoot vir ’n werk aansoek gedoen het, en oor haar senuwees van staal, wat dié keer glad nie knaag nie.

Astrid, baie geluk! Hoe voel jy ná die goeie nuus?

Ek is in die sewende hemel! Ek weet nou al sedert einde Julie, maar ek is steeds baie bly, want my harde werk in Saktyd en my vasbytvermoë is nou lonend.

Herinner ons gou weer wie jy is.

Ek was tussen 2005 en 2010 ’n navorser en insetsel-redakteur by die SABC2-leefstylprogram Pasella. Nou is ek ’n koördineerder by ’n agentskap wat vrywilligers in die buiteland werf om in Suid-Afrika welwillendheidswerk te kom doen. Terwyl ek in dié pos was, het ek verlof geneem om verlede jaar een van die deelnemers – en eindelik naaswenner – te wees aan Huisgenoot se werklikheidsreeks, Saktyd.

Wat het jy ná Saktyd aangepak?

Ek het teruggegaan werk toe, maar is kort daarna genader om ’n aanbieder op die SABC2-leefstylprogram Mooiloop! te wees. Ek het ’n loodsepisode saam met Valiant Swart en Gerrit Rautenbach geskiet, maar toe val dit ongelukkig deur die mat.

Hoekom het jy vir die leefstylpos by Huisgenoot aansoek gedoen?

Ek het aansoek gedoen omdat ek mal is oor leefstylnuus – en natuurlik oor Huisgenoot en haar sustertydskrifte, YOU en Drum. Dit bied baie geleenthede.

Was jy nie ’n bietjie ontmoedig om ná Saktyd weer by Huisgenoot aansoek te doen nie?

Nee, glad nie. Omdat Saktyd so ’n ongelooflike geleentheid was, was ek gemotiveer om uit te kyk vir poste en weer te probeer. Ek het gevoel Saktyd het vir my ’n nuwe deur oopgemaak – en nou het dit.

Wat het die aansoek behels?

Dit was ’n ongelooflik omvattende aansoek: Ek moes praktiese take verrig, soos ’n artikel redigeer, die styl daarvan aanpas, reklame-materiaal verkort en die leefstylblaaie van Huisgenoot, YOU en Drum vergelyk. My kennis van die Huisgenoot-leser se behoeftes in die tydskrif is ook getoets, en ek moes idees vir die leefstylblaaie (kos, mode, skoonheid) voorstel.

Sjoe! Dit klink of dit erger was as Saktyd . . . ?

Dit was nogal, want Saktyd was net vir Huisgenoot, maar dié pos betrek YOU en Drum ook. Die onderhoud was nie so erg soos in Saktyd nie: Op TV, met die kameras om my, moes ek voor sewe mense motiveer hoekom ek die regte kandidaat is. Gelukkig was dit dié keer net die leefstylredakteur, Liezel Joubert. Saktyd het my goed voorberei.

Waarna sien jy die meeste uit?

Ek het in my jare by Pasella so ’n paar keer gewerk met Carmen Niehaus, Huisgenoot se legendariese kosredakteur. Nou kan ek weer saam met haar werk – in haar “omgewing”. Ek is ook ’n baie kreatiewe persoon, so ek sien uit daarna om dit ’n stappie verder te vat en dit uit te leef by ’n tydskrif – die beste een in die hele land, met die beste redaksie.

Knaag die senuwees al?

Glad nie. Gedurende Saktyd het Izelle (Venter, die hoofredakteur van Huisgenoot, YOU en Drum, en ook die hoofbeoordelaar van Saktyd) vir my gesê televisie was vir haar baie erg. Omdat ek gewoond is aan TV, neem ek met ’n bietjie moed aan tydskrifte sal nie so erg wees nie. Ek is mal oor leefstylnuus, kos, mode en skoonheid, veral omdat dit iets is wat jy in jou eie lewe kan toepas. So om my leefstyl nou my werk te maak, is iets wat my regtig baie opgewonde en dankbaar maak.

– Christiaan Boonzaier