Janie Erasmus, tans die titelhouer van Mej. Doof Suid-Afrika, is in die hoofstad van die Tsjeggiëse Republiek, Praag, as Mej. Doof Wêreld aangewys.

Dié Pretoriase skoonheid het reeds ’n Mej. Doof Wêreld 2016-ondersteunersblad op Facebook geskep en vra nou mense om van die blad te hou.

Leviena Smit, besturende direkteur van Mej. Doof Suid-Afrika, het Janie na afloop van die geleentheid op Facebook geluk gewens. “Asemrowende geleentheid...supertrots! Xx” het sy by ’n video van die kroning geskryf.

Die eerste en tweede prinsesse is onderskeidelik van Senegal en Kanada. Altesaam 75 mans en vroue vanoor die wêreld het aan die Mej. en Mnr. Doof Wêreldkompetisie deelgeneem.

Janie is in Oktober verlede jaar as Mej. Doof Suid-Afrika aangewys. Janie werk as ’n finansiële administrateur in Midrand.