’n Truuk van die lig, ’n grillige skaduwee – of ’n Star Destroyer?

Die jongste omstrede foto wat deur NASA se Mars Curiosity Rover geneem is, het aanhangers van dié wetenskapfiksie tot waansin gedryf. Op die nuwe foto kan iets gesien word wat na ’n Star Destroyer uit die trefferrolprentreeks lyk.

“Ek het hierdie anomalie in die jongste foto van Curiosity Rover gevind,” skryf Scott C Waring, Vreemde Vlieënde Voorwerp-deskundige, op ufosightingsdaily.com. “Die swart voorwerp lyk soos ’n VVV wat neergestort het.”

Dit lyk waarliklik nogal baie na die ruimte-oorlogskepe wat in die eerste plek deur die Empire in die Star Wars-sage gebruik is. Alhoewel, die Destroyers, bekend vir hul ongelooflike vuurkrag, ongeveer 500 keer groter is as die voorwerp wat op Mars gevind is, meen RT.

“Die tuig is slegs ongeveer 2,5 tot 3 meter breed, so dit kon moontlik net ’n paar passasiers vervoer,“ gis Waring. “Aangesien baie van die figure wat ons op Mars gevind het, ongeveer 5 tot 8 cm lank was, kan ons tot die gevolgtrekking kom dat die skip ongeveer 20 tot 40 passasiers sou kon dra.”

“Daar is net een foto van die skip. Die Rover neem gewoonlik verskeie foto’s van elke oppervlak, maar nie hierdie een nie. Miskien sal dit môre meer foto’s neem.”

Bronne: UFO Signtings Daily, The Mirror, RT