Die Hollywoodse paartjie het hul verlowing in Augustus 2012 aangekondig, maar tot nou toe lyk dit nie of daar trouplanne is nie. Op die oomblik gaan dit oënskynlik glad nie besonder goed met Jennifer en Justin nie, en die gerugte vlieg rond dat hulle baie stry.
'Dit gaan glad nie goed met Justin en Jen nie.'

“Dit gaan glad nie goed met Justin en Jen nie,” het ’n ingeligte aan Star Magazine in Amerika gesê.

“Hulle is nooit bymekaar nie, en wanneer hulle wel bymekaar is, stry hulle gedurig.”

Die paartjie is sedert 4 April nog nie weer saam in die openbaar gesien nie. Hy is tans in New York besig met die verfilming van sy rolprent The Leftovers en daar word beweer dat Justin nie wou hê Jennifer moet hom op die stel kom besoek nie.

“(Hy was) heeltemal gekant daarteen aangesien hy nie die stres van haar teenwoordigheid wou verduur terwyl hy besig is om aan ’n belangrike projek te werk nie,” het die bron opgemerk. “Hy begin besef hy geniet sy onafhanklikheid; daarom is hy glad nie haastig nie.”

Jennifer vermoed glo hy is besig om romanties betrokke te raak by een van The Leftovers se personeellede.

Jen het haar blykbaar in New York in Justin en die vrou vasgeloop met wie sy vermoed hy agter haar rug iets aan die gang het toe sy op 29 April saam met Jason Bateman en sy vrou in Blue Hill, Greenwich Village, uitgeëet het.

“(Jen het) altyd gesê sy weet dit sou gebeur en dat sy die vrou sou raakloop, dus het sy die blondine dadelik uitgevra oor die aard van haar verhouding met Justin. Dit was so ’n gemors. Die vrou was so uit die veld geslaan, dit het gelyk of sy kon sterf,” het die ingeligte vertel en opgemerk die vrou, wie se naam nie bekend is nie, het daarna vinnig die aftog geblaas.

“Jen se gekke optrede het Justin verneder en verleë gelaat. In die lig daarvan dat hul verhouding reeds aan ’n draadjie hang, kon hy nie glo Jen sou so ver gaan om die vrou daaroor te konfronteer nie. Hulle het daarna hewig rusie gemaak oor die telefoon.”

Jennifer was ná die skok van die ontmoeting glo so kwaad dat sy besluit het om die verlowing heeltemal te verbreek. Justin het blykbaar saamgestem met haar besluit.

© Cover Media