Nóg ’n vrou van Krugersdorp word vermis nadat sy Maandagoggend onverklaarbaar verdwyn het.

Mandy Olivier (43), ’n ma van vyf, is vanoggend om 06:30 laas by haar werk, ’n handelaar van tweedehandse motors in Commissionerstraat, gesien.

Sy is vanoggend met ’n navy blou baadjie, blou jeans en swart stewels by die huis weg. Volgens kaptein Appel Ernst, polisiewoordvoerder, is daar nog geen verdere inligting beskikbaar nie.

Gert Jonker van die gemeenskapspolisiëringsforum op Krugersdorp is daar reeds ’n soektog aan die gang vir Mandy. “’n Groot groep vrywilligers gaan vanaand bymekaar kom om na haar te soek,” het hy gesê.

Dit kom na dié dorp in Junie geruk is na die grusame “afspraakmoorde” waar twee versekeringsmakelaars, Anthony Scholefield en Kevin McAlpine, en die eiendomsagent Hanle Lategan se lyke gevind.

Anthony en Kevin se lyke is in hulle motors se kattebakke gevind, terwyl Hanle se lyk in ’n spruit op die dorp gevind is.

Intussen is daar reeds vier verdagtes inhegtenis geneem. Tiaan Kruger (29) en Fabian Luff (32) is die naweek van 3 Junie inhegtenis geneem. Die 20-jarige Le Roux en sy suster, Marcel Steyn (18), is ook op 23 Junie aangekeer.

Die staat voer aan ’n foto van Hanle se lyk op die 18 jarige Marcel se foon gekry.

Die vier verdagtes word tans in die Krugersdorp gevangenis aangehou voordat hulle op 13 Julie kan aansoek doen om borgtog.