Drew Barrymore beplan glo om voort te gaan met planne om van haar man, Will Kopelman, te skei.

New York Daily News berig die aktrise het Vrydag amptelike skeidokumente by die Hooggeregshof in Manhattan ingedien.

Dit lyk asof die paartjie, wat twee dogters – Olive (3) en Frankie (2) – saam het, vriendskaplik voortgaan aangesien die skeidokumente as “onbetwis” opgeteken is.

Drew (41), ster van Charlie’s Angels, en Will (39), ’n kunsadviseur, het in 2011 begin uitgaan. Hulle is in 2012 getroud.

Die paartjie het vroeg in April vanjaar in ’n gesamentlike verklaring aangekondig hul paadjies gaan skei. Hulle het ook bygevoeg dat ten spyte van die skeiding die gesin heel gaan bly en dat hulle die behoeftes van hul dogtertjies as die belangrikste ag.

"Ons gesin skei ongelukkig volgens wet, hoewel ons voel dat dit nie keer dat ons ’n gesin bly nie,” het hulle gesê. "Egskeiding mag ’n mens wel laat voel jy het misluk, maar jy vind eindelik genade in die gedagte dat die lewe aangaan.”

Die ster van Blended het in die daaropvolgende weke haar deel gedoen om opwaarts en vorentoe te beweeg. Sy het gereeld foto's in sosiale media gedeel waarin sy tyd saam met haar kinders en geliefdes deurbring.

Toe sy egter in Mei vanjaar op Chelsea Handler se geselsprogram verskyn, het Drew ’n besonders eerlike blik gegee op die huweliksprobleme waardeur sy onlangs was.

"As jul paadjies skei voel jy ‘Wel, dit het nie uitgewerk nie,’ (maar) as jy wettig skei voel jy, ‘Ek is die grootste mislukking. Dit is die grootste mislukking,’” het sy gemymer.

"Dit is so vernederend en moeilik om waarlik daardeur te gaan, selfs agter toe deure.”

Dit was Drew se derde huwelik. Sy was in 1994 vir enkele weke met die kroegeienaar Jeremy Thomas getroud. Sy was toe vir ’n paar maande met die komediant Tom Green getroud voor hulle in Oktober 2002 finaal uitmekaar is.

© Cover Media