Dertien jaar lank het sy Maria se skoene vol gestaan, die karakter wat Oubaas (Pierre van Pletzen) en Hilda (Annelisa Weiland) se woonstel so mooi skoon gehou het en altyd gewillig was om vir iemand stukwerk te doen – natuurlik teen behoorlike betaling.

Maar ná vanaand is Themsie Times (65), wat die karakter van Maria vertolk, vir eers van die kassie af.

“Ek mis vir Oubaas en Hilda,” vertel Themsie, wat die laaste keer in Julie op die SABC2-sepie se stel was. “Maria het baie lank vir hulle gewerk. Voor dit het sy ook van ’n jong ouderdom af vir Oubaas se ma, Moekie, gewerk.”

Pierre en Annelisa het met die jare vir Themsie soos regte familie geword. “Hulle is my huis weg van die huis af. Ek mis hulle baie,” vertel Themsie.

Sy hoop haar karakter sal terugkeer na die Laan. “Maria is nie dood nie. Ek is onseker wat presies aangaan en of sy gaan terugkom” vertel Themsie dood eerlik.

Kykers het die afgelope week gesien hoe Maria en Willem (Markus Haywood) op ’n skikkingsbedrag van R2 miljoen ooreengekom het nadat sy oor boumateriaal in die Heights se arkade geval het en ’n kniebesering opgedoen het. Sy het Willem vir R5 miljoen gedagvaar.

Sy het besluit die R2 miljoen wat sy uit die skikkingsooreenkoms gekry het, is genoeg geld om haar gastehuis in Qwaqwa in die Oos-Vrystaat klaar te maak en terug te trek na haar wortels om daar te gaan af tree. Haar afskeid gaan vanaand met ’n skemerkelkie in Oppiekoffie gevier word en Oubaas gaan natuurlik ’n paar gevleuelde woorde spreek.

Rosa-Mari Erasmus, publisiteitsbeampte van 7de Laan, sê Themsie het al die afgelope jaar nie meer ’n permanente kontrak by die sepie nie. “Sy word ingeroep vir intriges soos wat ons verfilm en haar nodig het.”

Al het sy dus afgetree, beteken dit nie noodwendig dis dis laaste wat kykers van die geliefde Maria in die Laan gaan sien nie . . .

“Maria is soos ’n ma in 7de Laan,” sê Themsie. “Sy weet wat in almal se lewe aangaan en hou ’n oog oor almal. Kykers hou van haar, want sy staan vir die waarheid.”

Themsie vertel sy het self eienskappe wat ooreenstem met haar karakter s’n en mis haar sedert Julie elke dag. “Ek hou ook nie van nonsens nie en skram nie weg van die waarheid nie. Wanneer iemand verkeerd is, sal ek dit vir die persoon sê. Ek sal nie agter iemand se rug praat nie. Ek sal vir hulle sê en dan is dit verby,” antwoord sy so eerlik soos Maria.

“Ek gee om vir mense en is lief vir God. Ek vertel heeltyd die waarheid.”

Wanneer sy terugdink aan haar gunstelingstorielyn met die jare was dit toe sy saam met Oubaas en Matrone (Annelize van der Ryst-Hattingh) uit ’n pakkamer in die Heights mampoer gestook het en hulle dit verkoop het. “Dit was vreeslik snaaks en groot pret,” vertel sy met 'n glimlag.

En wie sal nou vergeet hoe sy almal in die Laan op hol gejaag het oor die spook wat in die Heights rondwandel? “Maria het alles probeer om die spook te verjaag.”

Of hoe sy en haar groot vriendin Aggie (Mimi Mahlasela) stout was vir ’n lekker botterbroodjie met room in Oppikoffie.

Noudat Themsie nie op 7de Laan se stel is nie, bly sy besig met bediening in haar kerk in Randburg, Johannesburg. “Ek bid vir mense en werk vir God.”

Sy is 'n ma van drie en ouma van ses. Sy woon saam met twee van haar kleinkinders in Johannesburg. “Nee, hulle kyk nie na my nie; ek kyk na hulle,” verseker sy gou en lag dan lekker.

Dink sy ons gaan weer vir Maria in die Laan sien?

“Ek hoop so; ek bid regtig so. Maria is gelukkig nie dood nie. Oubaas het vir haar gesê sy kan enige tyd terugkom. Sy het ook vir Aggie  vertel sy is bekommerd haar planne om ’n gastehuis  te bedryf, werk nie uit nie.”

Sy is beslis nie gereed om om haar 7de Laan-familie te groet nie, verseker Themsie ons.