Dis die tweede noodlottige ongeluk op dié pad in ’n bestek van twee dae.

’n BMW-voertuig het na bewering etlike ander voertuie verbygesteek en trompop in ’n aankomende passasiersbus gery.

Een van die passasiers in die BMW was uit die voertuig geslinger met die slag van die ongeluk en voor ’n aankomende vragmotor beland. Dié het toe bo-oor sy liggaam gery.

Twee vrouens, twee mans en een baba is oorlede.  Nog twee slagoffers in die passasiersbus is beseer. 

Kenny Africa, verkeershoof in die Wes-Kaap, meen dat hierdie tipe gedrag op paaie uiters onaanvaarbaar is.

“Daar is verskeie faktore wat bydrae tot noodlottige kop-aan-kop botsings op ons paaie. Mense raak aan die slaap, hul konsentrasie word afgetrek, hulle speel op hul selfone, dronk bestuur en bloot eenvoudig net onkundigheid wanneer hulle etlike voertuie verbysteek en in die gesig van aankomende verkeer beland.”

Kenny meen ook dat dit lewensgevaarlik is om ander voertuie verby te steek en meen dat dringende verandering in gedrag op paaie benodig word.

Hy sê: “Mense moet leer om mekaar op paaie te respekteer. Onskuldige mense sterf in die ongelukke. Pad veiligheid is nie net verkeersdienste se verantwoordelikheid nie. Dis almal se verantwoordelik.”

Hy het ook padgebruikers gemaan om versigtig te wees enige tyd van die dag of nag.

Huisgenoot.com het Donderdag berig oor ’n noodlottige ongeluk tussen Laingsburg en Leeu Gamka – ook op die N1.

Vier mense het in die ongeluk omgekom en luidens berigte was dit ook veroorsaak deur een voertuig wat ’n ander verbygesteek het.