Nog net een slapie dan is dit tyd vir 7de Laan se 4 000ste episode!

dielaanmain

Kykers kan groot opwinding verwag in dié spesiale aflewering, wat op 9 Maart uitgesaai word, wanneer Xander (Theodore Jantjies) en Vanessa (Ingrid Paulus) hul huweliksbeloftes hernu.

Maar met dié dat karakters soos Wilmien (Nina Swart), Dezi (Elma Postma), Karien (Christi Panagio) en Errol (Christo Davids) vir dié geleentheid weer ’n draai kom maak, gaan Hillside omtrent wemel van bekende en geliefde karakters uit die verlede.

Rosa-Mari Erasmus, 7de Laan se publisiteitsbeampte, vertel dit gaan ’n episode vol intriges wees en voorspel ’n groot kinkel in die kabel gaan kykers skok.

Die vervaardigingspan, spelers en mense in die vermaakbedryf het reeds die naweek hul partytjieklere aangetrek om 7de Laan se groot mylpaal in Katy’s Palace Bar in Johannesburg met musiek, koek, kos en vonkelwyn te vier.

[caption id="attachment_162731" align="alignnone" width="600"]Foto: Martin de Kock Foto: Martin de Kock[/caption]

Vinette Ebrahim, wat Charmaine speel, was een van die baanbrekers in die heel eerste aflewering 17 jaar gelede.

“Ek het daar aangekom toe ek in my 40’s was; nou is ek 60,” vertel sy.“Dis ’n leeftyd. Ek het in storielyne gespeel wat vir my wonderlik was, maar ook in sommiges wat bitter swaar was. Ek het mense by die span sien aansluit as kinders en gesien hoe hulle grootmense word.

"My sepiedogter, Ingrid Paulus (wat Vanessa speel), was 21 toe ons begin. Sy is nou al jare lank getroud, ’n ma en het ’n 12-jarige dogter.

"Christo Davids, wat begin het as Charmaine se Errol-kind wat sy aangeneem het, is deesdae agter die skerms as regisseur betrokke. Dis vir my wonderlik om te sien hoe almal groei en grootword.

“Charmaine is ’n fantasties karakter om te vertolk," vertel Vinette. "Sy is almal se moeder. Maar ek is so bly dat die skrywers nog ’n element vir my ingebring het met haar tweelingsuster, Vivian. Dié kom in, skep chaos en verdwyn dan weer terwyl almal in die Laan die stukke van hul lewe moet optel.

[caption id="attachment_162732" align="alignnone" width="600"]Wilmien, Dezi en Karien keer ook terug. Foto: Verskaf Wilmien, Dezi en Karien keer ook terug. Foto: Verskaf[/caption]

“Vir my bly elke dag ’n belewenis en opwindend. Dis vir my wonderlik om deel van die 7de Laan-familie te wees!”

Annelisa Weiland, wat die geliefde Hilda speel, vertel sy was 50 toe sy in die sepie begin speel. “Ek is nou 68. Die atmosfeer by die werk was nog altyd lekker,” sê sy.

Hoe kry sy dit reg om Hilda ná 17 jaar steeds met dieselfde oortuiging en geesdrif te speel? "Die geheim is om elke dag aan te pak asof jy ’n vars, nuwe karakter vertolk.

“Al het jy altyd te doen met dieselfde karakter, is dit heeltyd in ander omstandighede en met nuwe medespelers. Dit maak dit opwindend en hou dit altyd vars.”