Die operawêreld groet die Suid-Afrikaansgebore operasanger Johan Botha nadat hy Woensdag by sy huis in die Oostenrykse musiekstad Wene in die ouderdom van 51 jaar gesterf het.

[caption id="attachment_136186" align="alignnone" width="600"]Johan Botha (Foto: Facebook) Johan Botha (Foto: Facebook)[/caption]

Johan is sowat ’n jaar gelede met lewerkanker gediagnoseer.

Dié internasionaal gerekende tenoor – gesien as een van die wêreld se beste Wagner-tenore – was onlang in Suid-Afrika vir ’n reeks konserte vir die Suid-Afrikaanse Kankervereniging, maar sy konsert in Johannesburg is egter gekanselleer vanweë sy gesondheid.

Tydens sy onlangse besoek aan Suid-Afrika het ’n afgematte Johan in ’n onderhoud met die Kaapse musiekradiostasie Fine Music Radio erken hoe uitdagend die siekte vir hom en sy geliefdes was, hoewel hy moedig die stryd voortgesit het.

Johan, ’n dramatiese tenoor, het verskeie hoofrolle in operahuise wêreldwyd gesing en onder die baton van die wêreld se beste dirigente opgetree.

Hierdie groot musiekgees sal beslis gemis word.

Kyk hier na ’n uittreksel van een van Johan se optredes:

Bronne: RGS; Netwerk24; YouTube; Fine Music Radio