Net meet as ’n week nadat die Amerikaanse sangeres en eertydse The Voice-deelnemer Christina Grimmie noodlottig gewond is tydens ’n optrede in Orlando, is nóg ’n deelnemer aan hierdie gewilde televisieprogram doodgeskiet.

Alejandro Fuentes, ’n deelnemer aan Mexiko se The Voice, is verlede week Donderdag in Chicago doodgeskiet ná hy verjaardagvieringe van ’n vriend bygewoon het.

Die 45-jarige sanger het in 2011 aan die Mexikaanse weergawe van The Voice deelgeneem, maar woon reeds ’n geruime tyd in Chicago. Hy het ’n studio bedryf vir voornemende kunstenaars.

Volgens die Chicago polisiedepartement is Alejandro doodgeskiet nadat ’n gewapende man hom beveel het om uit sy motor te klim en hy geweier het. Die man het Alejandro toe drie keer in die kop geskiet. Tot dusver is niemand aangekeer nie.

Dit is ook nie duidelik of Alejandro se dood die gevolg van ’n mislukte kaping was en of hy spesifiek geteiken is nie. Die polisieondersoek duur voort.

Christina, 22, is verlede Satedag deur ’n aanhanger doodgeskiet terwyl sy na ’n optrede handtekeninge uitgedeel het. Die aanhanger het die vuurwapen toe op homself gedraai.

Bronne: BBC; The Guardian