In skoknuus wat laat Woensdagmiddag bekend gemaak is, is aangedui dat Lise Brink se been geamputeer moes word.

Dr. Dirk Hermann, Solidariteit se bedryshoof het bevestig Lise se linkerbeen is vandag onder die knie geamputeer.

“Ná verdere evaluasie het dokters besef die amputasie van die been is onvermydelik,” sê Dirk.

Lise (42), die vrou van dr. Danie Brink, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, is ernstig beseer tydens ’n ongeluk Vrydagoggend net buite Theunissen toe die gesin se Toyota Land Cruiser die pad verlaat en dit gerol het.

Die voertuig se een band het vermoedelik gebars.

Die ongeluk het ook die lewens geëis van twee van die Brinks se vyf kinders. Rachel (8) en André (13) is op die toneel dood.

Ná die ongeluk het Lise akute kompartement-sindroom in haar linkerbeen ontwikkel weens die impak van die ongeluk. Dit veroorsaak swelling wat bloedtoevoer belemmer.

Lees ook: Die begrafnis vir Solidariteit-man se twee kinders uitgestel

Sy is Maandagnag rondom middernag in die Netcare Unitas-hospitaal in Centurion opgeneem waar sy sedertdien in die waakeenheid behandel word.

Lise is sedert die ongeluk onder verdowing geplaas en het nog nie wakker geword na die ongeluk nie.

“Lise is in ’n kritieke toestand. Ons is baie bekommerd oor haar,” sê Dirk.