Vandag hang daar weereens ’n donker wolk van onsekerheid oor Oscar Pistorius se toekoms.

Terwyl dié voormalige Paralimpiese atleet onder huisarres in Pretoria verkeer, gaan sy regspan in die Bloemfonteinse appèlhof argumenteer hoekom die staat nie grondige rede het om sy vonnis van vyf jaar vir strafbare manslag om te keer in ’n skuldigbevinding aan moord nie.

Dít terwyl Adv. Gerrie Nel, staatsaanklaer, alles in die stryd gaan werp om die hof te oortuig daar is nie genoeg aandag aan sekere feite in die aanvanklike hofsaak gegee nie, soos byvoorbeeld dat Reeva Steenkamp haar selfoon by haar gehad het agter die geslote badkamerdeur.

Trouens, Gerrie gaan voor ’n volbank van vyf appèlregters aanvoer dat regter Thokozile Masipa ook nie sekere regsreëls, spesifiek die regsterm Dolus eventualis, reg toegepas het nie. Dié term verwys na wanneer ’n beskuldige kan voorsien dat sy aksie ’n mens kan dood en hy nogtans voortgaan met sy dade en die risiko aanvaar.

Gerrie argumenteer regter Masipa moes vir Oscar eerder skuldig bevind het aan moord in plaas van strafbare manslag.

Daarteenoor gaan Oscar se regspan, weereens onder leiding van Adv. Barry Roux, aanvoer regter Masipa was inderdaad reg in haar beslissing en dat Gerrie se “regspunte” eintlik verskuilde “feitepunte” is.

Die vyf regters wat oor die saak moet besluit, het reeds etlike maande gehad om beide die staat en die verdediging se sake te bestudeer, wat vroeër skriftelik ingedien is.

EWN berig dat Reeva se ma, June Steenkamp, na verwagting vandag se verrigtinge gaan bywoon. Sy word ondersteun deur die ANC se Vroueliga.

Oscar is verlede maand na net minder as ’n jaar uit die tronk op parool vrygelaat. Hy het sy meisie, Reeva Steenkamp, op Valentynsdag in 2013 doodgeskiet ná hy haar vir ’n inbreker aangesien het.

Die spesifikasies van sy paroolvoorwaardes is nie bekend gemaak nie, maar volgens sy familie is dit “streng” en sal Oscar dit eerbiedig.

Bronne: eNCA; EWN; Netwerk24