Nissan blaas nuwe lewe in die Datsun-handelsmerk en het reeds sy goedkoper luikrug bekendgestel. Datsun het nou ook ’n tweede Datsun aangekondig: die Go+, ’n veeldoelige voertuig met vyf-plus-twee-sitplekke.

Dis geskoei op dieselfde beginsel as die konvensioneler vyfsitplek-luikrug, Go, wat in die tweede helfte van 2014 in Suid-Afrika beskikbaar sal wees. Die Go sal teen die teikenprys van minder as R100 000 verkoop. Dit beteken die GO+ behoort ook teen ’n mededingende prys te verkoop.

Die liggewig Go+ is nogal klein vir ’n voertuig met sewe sitplekke, met ’n lengte van 3 995 mm op ’n 2 450 mm wielbasis, ’n wydte van 1 635 mm en hoogte van 1 485 mm. Dis baie veelsydig, aangesien die derde ry sitplekke kan afslaan, sodat jy vyf sitplekke en ’n groot bagasieruimte het.

Dis ook verbasend goed toegerus. Nissan wys daarop dis die enigste voertuig in sy prysklas met ’n ingeboude musiekspeler waarin jou slimfoon kan rus. Dit het ’n 1,2 L-viersilinder-petrolenjin, voorwielaandrywing, ’n vyfspoed-handratkas vir brandstofbesparing, goeie versnelling en hanteer rats op besige paaie. Ook op Huisgenoot.com Boet, Datsun kom terug!