Hy het vroeër aangedui hy gaan uit die diens tree nadat Pravin Gordhan se kop as minister van finansies tydens pres. Zuma se skokkende kabinetskuiwe gerol het.

Lungisa was saam met Pravin en Mcebisi Jonas in Engeland toe die span onverwags deur pres. Zuma ontbied is.

Sy kontrak sou eers in Mei 2018 tot ’n einde gekom het, maar in die lig van vandag se aankondiging gaan hy op 15 Mei die tesourie verlaat.

Hy gaan nou luidens berigte fokus op ’n gladde oorgang na die nuwe minister van finansies, Malusi Gigaba. Lungisa het die pos van direkteur-generaal die afgelope ses jaar beklee. Sy aanvanklike kontrak van vyf jaar is verlede jaar deur die kabinet met ’n verdere 24 maande verleng. Bronne bestempel hom as ’n kritieke stabiliseringsfaktor binne die tesourie. Hy het ’n deksel geplaas op besteding toe hy in 2011 by Lesetja Kganyago oorneem. In daardie stadium het die rand meer as 50 persent van sy waarde teen die Amerikaanse dollar ingeboet en Suid-Afrika het ook onder die skadu van rommelstatus beweeg. Die rand het hierdie skokkende aankondiging nie goed hanteer nie. Die afgelope paar uur het die reeds kwesbare geldeenheid 1,5 persent in waarde ingeboet. Die aandelemark het ook met meer as 3 persent gedaal.

Lungisa was egter nie die enigste een wat vandag ’n skokaankondiging gedoen het nie. Dipuo Peters, die voormalige minister van vervoer en ANC-lid van die parlement, het ook Woensdag aangekondig sy bedank uit haar amp as lid van die parlement. Sy is ook deur die kabinetskuiwe van haar ministerspos onthef en deur Joe Maswanganyi vervang. “Ek het my werk met waardigheid gedoen. Ek het nie myself of my familie in die verleentheid gestel nie,” het sy aan EWN gesê. Luidens berigte gaan sy nou op haar gesondheid en ander persoonlike sake fokus.

Bronne: huffingtonpost.co.za, ewn.co.za, netwerk24.com