Die glanspaartjie Burgerd Botha en Zita Pretorius gaan na 'n huwelik van sowat 19 maande skei.

Burgerd (28), 'n voormalige lid van die manskwartet Romanz het aan Huisgenoot bevestig sy en die blondekopsangeres, Zita (22) se paaie het geskei. Die egskeiding is nog nie amptelik nie.

Hy sê dit is ‘n “moeilike besluit wat ons saam geneem het”.

“Ons huwelik het ongelukkig verbrokkel. Daar was nie sprake van verneuk of sulke snert wat plaasgevind het nie. Dit was 'n moeilike besluit om te neem. Ons het vir mekaar gesê ons gaan op goeie voet uitmekaar,” sê Burgerd.

“Dit is 'n hartseer saak. Dit is swaar, dis nie lekker nie en ek het nie beplan dat dinge so sou gebeur nie, maar die lewe gebeur.”

Michelle Pretorius, Zita se ma, het gesê haar dogter is nog rou en seer “maar een ding is verseker, sy is baie lief vir Burgerd”.

Michelle sê Zita is tans op die familieplaas in die Waterberge waar sy studeer vir 'n musiekeksamen. Burgerd het vroeër aan Huisgenoot gesê Zita studeer vir 'n B.Mus-graad, asook gr. 8 in sang en gr. 7 in musiekteorie aan Unisa.

Burgerd en Zita het mekaar in Oktober 2012 op 'n geselligheid in Sun City ontmoet waar Romanz by Skouspel opgetree het. Zita se eerste soloalbum, Skakerings van Dagbreek, is toe pas uitgereik. Zita het in die musiekwêreld naam gemaak toe haar en Rudi Claase se duetalbum, Die Engele Sing, in 2011 uitgereik is en goue status bereik het.

Die paartjie is op 1 Januarie 2014 getroud “omdat dit ‘n vakansiedag is, weet ons ons sal lewenslank altyd op ons huweliksherdenking bymekaar wees”, het Burgerd destyds op sy troudag aan Huisgenoot gesê.

Beeldmateriaal vir die video van hul eerste duet, Liefde uit die Hemel Blou, is ook op hul troudag verfilm.

Deur Hilda van Dyk

[post-slider]