Die wêreldberoemde sangeres Gwen Stefani en haar ewe bekende kêrel, Blake Shelton, het volgens berigte ’n huweliksbeplanner nader gehark.

gwen

Die 46-jarige sangeres van Rich Girl het haar verhouding met Blake, ook ’n afrigter op The Voice, in November verlede jaar bevestig nadat sy die vorige maand finaal van Gavin Rossdale geskei is.

Gerugte van trouklokkies doen al maande lank die ronde en TMZ.com berig nou die paartjie het die dienste van Jerri Woolworth, ’n befaamde troubeplanner, bespreek.

Volgens die webwerf het Jerri al geleenthede vir onder meer die Country Music Awards (CMA’s), die National Football League (NFL) en die National Hockey League (NHL) beplan. Daar het al meer as 15,000 mense by sy geleenthede opgedaag.

Jerri het kantore in Tennessee en New York en volgens haar webwerf is sy veral bedrywig met die reëlings van troues van beroemdes.

"Jerri Woolworth en haar span kundiges het ’n begrip sowel as heelwat ondervinding met die beplanning van troues vir beroemdes,” word op die webwerf geskryf. “Hulle het besonderse kennis van die reël van sekuriteit met veelvuldige fasette vir beroemdes, nie alleen vir hul beroemde kliënte nie, maar ook vir sekuriteit van die menigte hoëprofielgaste."

Die uitdagings ten opsigte van privaatheid van die publiek en vertroulikheid rakende verkopers en diensverskaffers, is ook vir hulle ’n topprioriteit.

Gwen en Blake was albei voorheen getroud – Gwen met Gavin en Blake met die Country-sangeres Miranda Lambert.

TMZ het Jerri genader oor die bewerings, maar sy het net gesê sy het “geen kommentaar” nie. Die webwerf sê ook hulle is nie seker of daar al op ’n datum besluit is vir die groot dag nie.

Toe Gwen onlangs uitgevra is oor die bewerings dat sy op trou staan, het sy eenvoudig haar skouers opgetrek met: “Kom ons neem net dinge een dag op ’n slag. Dit gaan dol op die oomblik!”

© Cover Media