Maandagoggend het sy nog 'n Instagram-foto met van 'n hartjievormige ring gedeel met die byskrif Maandagoggend-'blues'. Dinsdag het die nuus egter gebreek dat die bekende juwelier vir die sterre, Jennifer Meyer, en haar baie bekende man, Tobey Maguire van van Spiderman-faam, se paaie uiteen gaan.

Die paartjie het saam 'n verklaring uitgereik waarin hulle bevestig dat hulle na baie oorweging en sielsondersoek besluit het om nie langer saam te wees nie. "As toegewyde ouers bly ons kinders ons eerste prioriteit en ons sal hulle saam met volgehoue liefde, respek en vriendskap grootmaak."
Die 41-jarige Tobey en Jennifer (39) het twee kinders: Ruby (9) en Otis (7)
Hulle het vroeg in 2003 mekaar ontmoet. Vier jaar later is hulle tydens 'n intieme geleentheid in Hawaii getroud met net 'n klein groepie vriende en familie teenwoordig.

Jennifer het destyds gesê dat dit absoluut die beste tyd van haar lewe is. "Ek is in die wolke. Ek gaan trou, 'n gesin begin en ek het 'n ongelooflike maatskappy."

Haar ontwerpe word deur mense soos Jennifer Aniston, Drew Barrymore en Blake Lively gedra.

Tobey, wat glo onder moeilike omstandighede grootgeword het, het erken dat stabiliteit een van die groot prioriteite in sy lewe is.

"Weens die manier waarop ek grootgeword het, het ek ernstige ambisies gekoester om geld te maak, sekuriteit en gerief in my lewe te hê," het hy in 2007 aan Parade-tydskrif gesê.

Tobey se laaste verskyning op die silwerdoek was as die skaakmeester Bobby Fisher in “Pawn Sacrifice" in 2014.

Bronne: people.com, pagesix.com