Wille Martin, die gewilde skrywer van Afrikaanse liefdesromans soos Afspraak op Somerhoek, Doringroos en ’n Tyd om Lief te hê, is die naweek in die ouderdom van 81 op Heidelberg in Gauteng oorlede.

Sy het gesterf na ’n kort siekbed.

Wille, ’n boorling van Bethulie in die Vrystaat, het tydens haar lang skrywersloopbaan meer as 200 romans, insluitend talle kinder- en jeugboeke geskryf. Haar ma, Minnie Postma, was ook ’n bekende skrywer. Sy het haar loopbaan destyds as joernalis by Die Volksblad begin waar sy na ’n paar jaar haar hand aan kortverhale gewaag het. Sy word oorleef deur drie kinders: Hendrik, Fritz en ’n dogter, Minja Simpson. Die welbekende digter Adam Small het ook die naweek gesterf. Hy was 79. Kaapstad se burgemeester, Patricia de Lille, het die nuus op Twitter bekend gemaak.

Bronne: Springbokboeke, Radio Rosestad