Vir enige aanhanger van vroue-tennis is dit deesdae amper onmoontlik om ’n Grand Slam-kwarteindronde sonder Serena Williams voor te stel. Maar dis presies hoe vanjaar se Australiese Ope uitsien: Ana Ivanovic, van Serwië, het die wêreld se topspeler in die vierde ronde uitgeskakel.

Met nog ’n topspeler, die Rus Maria Sharapova, wat ook nie die kwarteindronde in Melbourne kon haal nie, lyk die verdedigende kampioen Victoria Azarenka (Belarus) se kans goed om die derde jaar agtereenvolgens in Melbourne te wen. Victoria behoort verlig te voel dat Serena nie meer in haar pad staan nie: Serena het die vorige twee keer dat dié twee in Grand Slam-eindstryde teen mekaar gespeel het, as die kampioen van die baan gestap (Amerikaanse Ope 2012 en 2013).

Aan die manskant lyk sake meer voorspelbaar: Die vier topgekeurde spelers, Rafael Nadal (Spanje), Novak Djokovic (Serwië), Andy Murray (Groot-Brittanje) en Tomas Berdych (Tsjeggië), het almal na die kwarteindronde deurgedring.

Die voormalige kampioen Roger Federer is dalk vir ’n slag nie onder die vier topgeskeurdes nie, maar dié Switserse ster se oorwinning in die vierde ronde oor Jo-Wilfred Tsonga van Frankryk het gewys dat hy beslis steeds ’n aanspraakmaker op die Australiese Ope-kroon is.