Die politieke riller, met die Hollywood-aktrise Claire Danes in die hoofrol, speel hoofsaaklik in Amerika en die Midde-Ooste af. Maar Claire en die Homeland-span is al sedert verlede week in Kaapstad om van die tonele hier te verfilm. Winkelname, advertensies en nommerplate is verander om te lyk asof die toneel in Pakistan afspeel. Selfs MyCiti, die Kaapse busdiens, se tekenborde het ’n Pakistanse geur gekry!

Een van die Suid-Afrikaners wat in die restaurant was, Pieter-Ben Kriel (29) van Durbanville, vertel die klante kon onverstoord eet en kuier: “Hulle verfilm net asof ons nie daar is nie. Ons is definitief in baie van die skote in die agtergrond te sien, maar hulle behoort ons seker later tydens redigering te kan uithaal. Ek was eintlik verbaas hulle het nie die restaurant afgeskort nie.”

Die restaurant verkoop ’n verskeidenheid Midde-Oosterse kos.

Die toneel het behels dat Claire, wat die rol van die CIA-agent Carrie Mathison vertolk, bekommerd deur die restaurant loop terwyl sy kort-kort oor haar skouer loer. Daarna het sy oor die straat gestap en by ’n tandarts se spreekkamer ingegaan, vertel Pieter-Ben.

Tonele is ook al by die Kaapstadse Internasionale Lughawe verfilm.

Foto’s: Antoinette Kriel en Anton Bekker

[post-slider]