’n Gesaghebbende getuie het Donderdag in die hooggeregshof in Pretoria verskeie faktore uitgewys wat dalk Reeva Steenkamp se maaglediging die aand van haar dood kon vertraag het.

Prof. Christina Lundgren is deur Oscar Pistorius se verdedigingspan geroep om getuienis te lewer oor faktore wat maaglediging beïnvloed.

Die narkotiseur het gesê daar kan nie bewys word dat ’n maag vier uur ná ’n maaltyd geledig word nie. Sy het gesê daar is konsensus oor maaglediging ses uur ná ’n maaltyd.

“Sowat 10 persent van ’n laevetmaaltyd sal ná vier uur in die maag oorbly,” het sy gesê.

Faktore soos slaap, oefening, angs en pyn, rook en sekere medikasie kan maaglediging beïnvloed.

Sy het gesê maaglediging is nie ’n presiese wetenskap nie.

Volgens Christina kon Reeva se laaste maaltyd, hoenderroerbraai, maaglediging vertraag het as dit onverteerbare vesel bevat het.

Sy het ook gesê dat daar getuig is dat Reeva joga gedoen het voor sy gaan slaap het, wat ook die proses kon vertraag het.

In April kon Oscar nie verduidelik waarom daar ten tyde van haar dood op Valentynsdag verlede jaar nog voedsel in Reeva se maag was nie.

Adv. Gerrie Nel het toe bespiegel dat Reeva binne twee uur voor haar dood moes geëet het.

- Sapa