Die Suid-Afrikaanse komediant Trevor Noah is by vanjaar se Nickelodeon Kids Choice Awards in Los Angeles, Kalifornië, met die prys vir gunsteling-Afrikaster vereer.

Die Daily Show-aanbieder het sy mede-Suid-Afrikaners Pearl Thusi en Wayde Van Niekerk, die Nigeriërs Yemi Alade en Funke Akindele Bello en die Keniaan Lupita Nyong'o om die gesogte oranje “lugskip” uitgestof nadat kinders oral in Afrika vir hom gestem het. Die nuus volg kort op die hakke van Trevor se onlangse triomf toe hy as een van Time Magazine se 10 leiers van die volgende geslag aangewys is.

Toe hy die prys op die stel van The Daily Show ontvang, het Noah geskerts: “Nickelodeon! En die kinders! Baie dankie vir die wonderlike prys. Ek is baie geëerd om jul gunsteling Afrika-ster te wees. Baie dankie dat julle hierdie Nickelodeon Kids' Choice Award vir my gegee het.”

Terwyl hy sy prys bekyk, het Noah voortgegaan: “Het julle geweet dis ’n kaleidoskoop? Ek het die nie geweet nie. Jy kan goed sien. O, kyk daar! Ek kan Afrika sien. O-o-o. . . Ek wil huis toe gaan (nagemaakte hartseer gesigsuitdrukking). Dankie, weer eens, aan almal.”

Vanjaar se Nickelodeon Kids' Choice Awards, met die WWE-superster John Cena as aanbieder, is Saterdag 11 Maart by die USC se Galen-sentrum in Los Angeles aangebied.

Bron: Channel 24