Pretoria – Drie mense wat terminaal siek is, is besig met hofaansoeke wat dokters sal toelaat om wettig genadedood toe te pas, berig Netwerk24.

Lee Last, uitvoerende lid van die organisasie Dignity SA, het Woensdag gesê drie mense het die organisasie gevra om hulle met die hofaansoeke in die hooggeregshof te help.
Die drie terminaal siek mense het almal ses maande om te leef, het Lee gesê.

Dit volg op verlede week se belangrike beslissing dat die Kaapse advokaat Robin Stransham-Ford toegelaat word om met die bystand van ’n dokter te sterf, en dat die dokter nie vervolg of aan ’n tugverhoor onderwerp sou word nie.

Robin het fase 4-kanker gehad wat na sy prostaat en ander dele van sy lyf versprei het.

’n Dringende aansoek is verlede week in die hooggeregshof in Pretoria aangehoor waar prokureurs gevra het dat Robin (65) die reg gegun word om sy lewe te beëindig.

Robin is verlede Donderdag twee uur voor die hofbeslissing oorlede, het News24 berig.

Regter Hans Fabricius het ’n aansoek afgekeur deur die regering en die Raad vir Gesondheidsberoepe om sy beslissing te herroep, en gesê dis ’n saak van openbare belang en kan meer mense as net Robin raak.

Die drie terminaal siek mense het almal ses maande om te leef, het Lee gesê. Die aansoeke is dus nie dringend nie en sal op die gewone hofrol geplaas word.

Netwerk24