Eontle Nhlengethwa, wat links van Oscar se huis woon, het wel dié oggend van ’n harde klapgeluid wakker geword, maar kon nie sê of dit ’n skoot of die krieketkolf se houe teen die toiletdeur was nie.

Wat Eontle, haar man, Michael, en Rika Motshuane (Oscar se buurvrou aan die regterkant) wel gemeen het, is dat hulle ’n man hard gehoor huil het.

“Daar is ’n verskil tussen iemand wat huil omdat hy hartseer is en iemand wat huil omdat hy bang is. Die persoon het duidelik hulp nodig gehad,” het Michael getuig.

Eontle het getuig sy het wakker geword van ’n klapgeluid en iemand wat “help, help, help” skree.

Rika het wakker geword van ’n man wat hard huil. Die huilery was so hard en naby dat sy amper gedink het dit is in haar huis. Sy en haar man, Kenneth, het eers gedink dit is ’n sekuriteitswag wat geskiet is. Sy het ’n motor by haar huis hoor verbyry, wat toe voor Oscar se huis stilgehou het.

Haar man het die sekuriteit gebel en gevra wat by Oscar se huis aangaan. Hulle het gesê hulle het die situasie onder beheer.

Die saak is uitgestel tot Donderdag wanneer die verdediging hul volgende getuie sal roep.

- Hilda Fourie