Die DA se James Selfe sê die konstitusionele hof sal moet duidelikheid gee oor verskeie kwessies, waaronder die vraag of pres. Jacob Zuma vervolg kan word wanneer hulle Donderdag uitspraak lewer oor die Nkandla-kwessie. “Ons is opgewonde oor die konstitusionele hof en ons dink daar is ’n paar uiters belangrike kwessies waaroor beslis moet word. Een daarvan is die magte en voorregte van die openbare beskermer, asook regstellende stappe,” het James, voorsitter van die uitvoerende komitee van die DA se federale raad, Donderdagoggend buite die hof gesê. Lees ook: Rolspelers reageer oor Zuma se dag in die hof Hy het gesê die hof moet vasstel of pres. Zuma die wet oortree het deur nie gehoor te gee nie aan die regstellende stappe soos voorgestel deur die openbare beskermer, Thuli Madonsela, in haar verslag oor die opgraderings wat aan die president se woning in KwaZulu-Natal gemaak is.

“Die hof moet vasstel of die president doelbewus die wet oortree het deur hom nie aan die openbare beskermer se regstellende stappe te steur nie. En indien hy dit gedoen het, moet vasgestel word of hy vervolg kan word.”
Die EFF en DA het pres. Zuma en Baleka Mbete, speaker van die Nasionale Vergadering, gedagvaar nadat hulle versuim het om aan Thuli se voorgestelde regstellende stappe te voldoen.
Hulle het aansoek gedoen vir ’n bevel wat die magte van die openbare beskermers verduidelik en eis dat pres. Zuma beveel word om die geld terug te betaal wat bestee is aan nie-veiligheidsverwante items, soos die swembad – wat aanvanklik ’n vuurpoel genoem is – ’n hoenderhok en veekraal. Die konstitusionele hof self kan nie ’n president vervolg nie omdat daardie mag in die hande van die Nasionale Vergadering in die parlement lê.
Lees ook: Nkandla-verslag in 2013
Zuma se prokureur, Jeremy Gauntlett, het die kwessie van vervolging opgehaal toe hy in Februarie in die hof gesê het: “Dit sou verkeerd wees vir hierdie hof om ’n beslissing te maak wat tot vervolging kan lei. Die DA en EFF kan dalk vir ’n vervolging probeer vra.”

Die media het Donderdag voor die uitspraak buite die konstitusionele hof gewag. Daar was ook ’n swaar polisieteenwoordigheid buite die hof.

Bron: News24

Ander stories op Huisgenoot.com:

Huisgenoot-joernalis skryf hoe dit voel om konstant op die wipplank van bipolêre steuring te ry

Gelukkige einde vir oupa ná ’n hartseer foto van hom soos ’n veldbrand versprei

‘Sy gee my hoop’: Neels van Jaarsveld gesels oor die toekoms, die liefde in sy lewe

Jy sal nie glo saam met watter superster Juan de Jongh in Brasilië ’n selfie geneem het nie!

Kyk: Blinde terapiehond Smiley doen sy naam gestand