Die prys vir vermaak-ikoon is Dinsdagaand tydens die Friars-stigting se gala in New York aan die legendariese Robert de Niro toegeken. Die akteur het die geleentheid benut om sy oorlede kollega in herinnering te roep wat in Augustus in sy huis in Kalifornië vermoedelik sy eie lewe geneem het. “As julle my ken, sal julle weet hoe graag ek lag. En niemand het my laat lag soos Robin nie,” het hy aan die gehoor gesê, onder wie Sharon Stone, Orlando Bloom, Edward Norton, Tony Bennett en Christopher Walken, volgens The Hollywood Reporter (THR).

'Hy het so baie menslikheid gehad.'

“Natuurlik was dit meer as grappe. Hy het so baie menslikheid gehad,” het Robert verder gesê. “Hy was ’n wonderlike akteur, vir seker, maar daardie gevoelens was eg. Niemand kan daardie soort liefde en meelewing vervals nie. Robin, my dierbare vriend, ek dra hierdie prys aan jou op.”

Robert en Robin se vriendskap het oor dekades gestrek. Die twee was medesterre in die rolprent Awakenings van 1990 onder regie van Penny Marshall, wat ook die gala bygewoon het.

Toe ’n greep uit die fliek by die geleentheid vertoon word, het Robert gesê hy kon dit nie kyk sonder om te dink “hoe baie ek Robin Williams mis” nie.

Robin se lyk is op 11 Augustus by sy huis in Tiburon, Kalifornië, gekry.

Ná sy dood het Robin se vrou onthul hy het ’n stryd teen depressie gevoer.

Die gewilde komediant se geliefdes het hom einde verlede maand tydens ’n privaat gedenkdiens in die Curran-teater in San Francisco gehuldig.

Robin se weduwee, Susan, en sy drie kinders, Cody, Zelda en Zak, was teenwoordig, asook tientalle van sy oudkollegas, van wie baie toesprake gelewer het.

Billy Crystal, Whoopi Goldberg, Stevie Wonder, Bette Midler, Ben Stiller, George Lucas, Penny Marshall, Danny DeVito, Rhea Perlman, Sarah Michelle Gellar, Jeff Bridges, Minnie Driver en Marlo Thomas was ook onder die rouklaers, het Robin se voormalige verteenwoordiger destyds aan THR gesê.

© Cover Media