Politiek was vir hom soos om aan Survivor deel te neem, sê die geliefde radioman en voormalige politikus Niekie van den Berg (58). “Jou oorlewing hang af van die alliansies wat jy maak, en dis iets wat ek glad nie geweet het nie.”

Niekie se politieke loopbaan het ná die afgelope verkiesing tot ’n einde gekom toe die Vryheidsfront Plus (VF+), by wie hy nie te lank gelede aangesluit het nie, aangekondig het hulle stuur net vier LP’s parlement toe. Niekie het uitgeval omdat sy naam tiende op die VF+ se nasionale kandidatelys was. Voorheen het hy vyf jaar lank as lid van die Demokratiese Alliansie in die parlement gedien.

Niekie hoop nou om binnekort weer deel van die uitsaaiwese te word. “Ek is besig met onderhandelinge; daarom kan ek nog niks bekend maak nie.”

Hy het die parlement baie geniet, sê Niekie. “Dit was lekker om in die sentrum te wees van ’n plek waar dinge gebeur, maar ek het nie van die Survivor-ding geweet nie. Ek wou net graag ’n bydrae lewer.”

Hy is nou minder bang om sy mening oor dinge te lig, want wanneer jy die politieke spel speel, moet jy maar altyd sorg dat jy “in jou spoor trap”.

Hy hoop dat hy in die toekoms weer die geleentheid sal kry om mense se stories op die radio te vertel . “Radio bly ’n wonderlike wêreld en dit bly my eerste liefde.”

- Marelize Potgieter