Sydney (dpa) –

Die verdwaalde merinoskaap kon vanweë die swaar vlies skaars loop toe dit gevind is. Dit het waarskynlik sowat vyf jaar geneem om so te groei. Die skaap is Woensdag in bosveld naby Canberra gevind, het ABC Radio berig. ’n Span van vyf van die Royal-vereniging vir die voorkoming van wreedheid teenoor diere, het die skaap gered en ’n skaapskeerder gevra om die wol – wat tot 47 cm dik was – te verwyder.
Ian Elkins, ’n kampioen-skaapskeeder, het aangebied om dit vrywilliglik te doen en dit het hom Donderdag 45 minute geneem om die takie te voltooi en die wol in een stuk te verwyder. “Ek dink nie hy is al vantevore geskeer nie en ek dink hy’s vyf of ses jaar oud,” het Ian aan ABC Radio gesê. “Ek sou nie sê dis hoëgehalte wol nie, maar ek sou nie verwag dat dit moes wees nadat hy so lank in die bos was nie."
Die skaap, wat Chris genoem is na die persoon wat hom gevind het, is onder verdowing geplaas voor die skeerdery om dit gemakliker te maak. ’n Woordvoerder van die vereniging, Jane Gregor, het gesê hulle sal ná gesondheidstoetse die skaap vir aanneming beskikbaar stel. Chris se hoeveeheid wol het die vorige wêreldrekord van 27 kg ongeskeerde wol wat van ’n skaap in Nieu-Seeland genaamd Shrek geskeer is, oortref. Dié skaap het ses jaar in die wildernis geleef.
Die gemiddelde merinoskaap se wol wat jaarliks verwyder word, weeg sowat vyf kilogram en neem drie minute om af te skeer.

Bron: News24