Hulle is gereeld die feeks in die verhaal: die nare stiefma wat haar stiefkinders afkraak en slegsê, hul pa manipuleer en die kinders se eie ma uit hul lewe probeer sny.

[caption id="attachment_146881" align="aligncenter" width="600"]Audrey en haar dogter, Riley. Audrey het net lof vir Riley se stiefma. Audrey en haar dogter, Riley. Audrey het net lof vir Riley se stiefma.[/caption]

Maar nie alle stiefma’s is soos die gemene, haatlike boelies in flieks en TV-reekse nie, sê Audrey Nicole, ’n ma van Newport News net buite die Amerikaanse deelstaat Virginië.

“Dit is my dogter se pa se meisie. Sy is dierbaar! Ek is besonder dankbaar vir haar, want wanneer my dogter by haar pa kuier, gee sy haar kos, versorg haar, koop vir haar geskenke en behandel haar nes haar eie,” skryf Audrey in ’n Facebook-inskrywing waarin sy Whitney McGraw prys.

Die inskrywing maak die internet gaande sedert dit vroeër in November geplaas is. Dit is al byna 150 000 keer in Amerikaanse en buitelandse media gedeel, en Audrey het later op haar Facebook-blad geskryf die positiewe reaksie het haar verstom.

Audrey sê sy verstaan nie waarom soveel ma’s kleinlik is teenoor ander vroue nie. Haar dogter, die kleuter Riley, is bevoorreg om twee vroue in haar lewe te hê wat lief is vir haar, skryf sy.

“Niemand het gesê dis maklik om ma te probeer wees vir ’n kind wat nie jou eie is nie. ’n Kind kan twee ma’s hê, want in my oë beteken dit net meer mense is vir haar lief en dit maak my gelukkig.

“Ek sal haar nooit soos ’n buitestander wil laat voel nie. Ek is so dankbaar vir haar. Dames, word asseblief groot en fokus daarop om ’n goeie ma te wees,” laat sy hoor.

Is jy ’n stiefouer wat nie verdien om as ’n gemene boelie uitgebeeld te word nie, of het jou kinders dalk ’n stiefouer wat vir hulle net so goed is soos hul eie ouers? Vertel ons by web@huisgenoot.com.