Dis ook die geval met Nicole Kidman (49) en haar agtjarige dogter, Sunday Rose.

“Ek moet my dinge agtermekaarkry, want my dogter het ’n rol losgeslaan in haar skool se toneelopvoering. So, dis my hoogste prioriteit: om woorde saam met my dogter te leer,” het Nicole nou onlangs verklap aan Marc Malkin van E! News. Sy was op die rooi tapyt by Palm Springs se Internasionale Rolprentfees 2017.

“Ek was nou net op die telefoon met my man (die sanger Keith Urban) en Sunday (Rose) het ek op die agtergrond hoor sê: ‘Klim van die foon af en kom help my my woorde leer, Pa,'” het Nicole laggend vertel.

“Hy het my gehelp om my dialoog vir flieks onder die knie te kry en nou leer hy woorde saam met sy dogter.”

Sunday is nie die eerste van Nicole se kinders wat die kalklig betree in die vermaakwêreld nie. Haar seun, Connor Cruise (21), het in die rolprent Red Dawn van 2012 sy buiging gemaak as akteur saam met Chris Hemsworth. Deesdae is hy voltyds platejoggie in klubs en op partytjies.

Nicole se oudste dogter, Isabella (Bella) Cruise (23), verkies om agter die skerms te werk as haarstilis en grimeerkunstenaar op rolprentstelle.

Sy het ook tydens haar verskyning op die rooi tapyt verduidelik hoekom sy langs Keith gedans het tydens sy Nashville-konsert op Nuwejaar. Hy het hulde gebring aan onder andere Leonard Cohen en Prince.

“Ek wou dit vir hom (Keith) doen en my man ondersteun asook die kunstenaars wat ons in 2016 aan die dood afgestaan het.”

Sy en Keith gaan heel moontlik saam op die rooi tapyt wees tydens die Golden Globes wat hierdie Sondag plaasvind. Nicole is vir die elfde keer vir een van dié gesogte pryse benoem. Dié keer is dit as beste vroulike byspeler in die fliek Lion.

Wonder wie van haar kinders gaan dalk in die toekoms ook ’n goue beeldjie vashou vir hul spel op die silwerdoek?