Die verhouding tussen Jaco Oosthuizen en Nicola Pienaar was glo “jonk, stormagtig en passievol”.

So het Oosthuizen vandag in die landdroshof in die Paarl getuig tydens sy borgaansoek.

Hy staan tereg op die moord van sy meisie, Pienaar, nadat haar lyk in Januarie in ’n vlak graf in die agterplaas van sy ouerhuis gevind is.

Hy pleit onskuldig op die aanklagte teen hom en voer aan die staat het nie genoeg bewyse om hom te vervolg nie. Oosthuizen het getuig dat hy en Pienaar saam enige dwelms wat hulle kon vind, sou gebruik. Dit sluit tik, kokaïen, mandrax en dagga in.

“Die positiewe aspekte van ons verhouding is deur daaglikse dwelmverbruik vergiftig,” het hy gesê.

Oosthuizen beweer Pienaar het hom gereeld aangeval in jaloerse bedwelmde buie.

Sy het glo ook elke keer by sy huis opgedaag wanneer hy nie haar boodskappe beantwoord het nie en het begin voel sy bekruip hom.

Hy het glo al probeer om die verhouding te beëindig.

Oosthuizen het getuig dat hy die aand van Pienaar se dood bloot uit selfverdediging opgetree het nadat sy hom glo met ’n mes aangeval het.

Adv. Catherine Breytenbach, vir die staat, staan Oosthuizen se borgaansoek teen.

Sy het aangevoer indien borg aan Oosthuizen toegestaan word, hy ’n gevaar vir die samelewing sal wees en dat hy die verhoor sal probeer vryspring. Hy sal ook getuies probeer beïnvloed.

Hy kan ook probeer vlug na ’n natuurreservaat op die grens.

Ook Jaco se ma vra dat haar seun in aanhouding bly.

Breytenbach het aangevoer Oosthuizen het die moord op Pienaar beplan.

“Dit was nie selfverdediging nie. Sy (Pienaar) was kleiner en swanger,” het sy gesê. Die staat voer verder aan Oosthuizen het twee dae lank aan die graf gegrawe waarin Pienaar gevind is. “Nicola was met haar dood swanger , haar maag is oopgesny en die  fetus is buite haar maag gevind,” het sy gesê.

Landdros Diane Blaauw het versoek dat Oosthuizen ’n alternatiewe adres moet verstrek indien hy op borg vrygelaat word.

Die saak is uitgestel tot 18 Mei.

• Voor die hofverrigtings begin het, het die hof Oosthuizen se aansoek om die media uit die hof te hou, verwerp. Oosthuizen het gemeen die teenwoordigheid van die media maak hom senuagtig. Landdros Diane Blaauw het gesê die mediablootstelling doen nie inbreuk op Oosthuizen se regte nie. Sy het gesê dat mense oor die algemeen senuagtig en bang is tydens hofverskynings.