Ná byna twee jaar se bespiegeling dat Nico Henning die meesterbrein was agter die moord van sy vervreemde vrou, Chanelle, het hy vanoggend vir die eerste keer in die beskuldigdebank verskyn.

Nico het vanoggend voorgekom in die Pretoriase landdroshof op aanklagte van moord en sameswering tot moord.

Hy is maer en het met 'n bottel water in die hand gestaan. Hy was geklee in 'n netjiese donker pak met 'n streepdas.

Nico se verskyning kom skaars 'n dag nadat André Gouws in die hooggeregshof in Pretoria getuig het dat Nico hom genader het om Chanelle te vermoor. André en Ambrose Monye is verlede week skuldig bevind aan die moord op 8 November 2011 in Faerie Glen toe Chanelle voor haar seuntjie se kleuterskool doodgeskiet is.

André het getuig Nico het hom R1 miljoen aangebied om Chanelle te vermoor sodat hy permanente toesig oor hul seuntjie kon kry.

Hy het die aantygings oor Nico gemaak ter strafversagting voor die vonnis wat op hom wag.

Nico het homself vanoggend by die Villieria-polisiekantoor aan die polisie oorgegee waarna hy in hegtenis geneem is.

Sy regsverteenwoordiger, adv. P. van Wyk SC, het in die hof gevra dat die saak tot Dinsdag uitgestel word sodat hulle tyd het om voor te berei vir Nico se borgtogaansoek.

Nico sal in die Villieria-polisiekantoor aangehou word tot sy volgende hofverskyning. Ekstra bron: Beeld

- Hilda Fourie