Nico Henning, wat van die moord op sy vervreemde vrou aangekla word, is vanoggend op borgtog van R10 miljoen vrygelaat.

Landdros Desmond Nair het in die Pretoriase landdroshof gesê Nico (47) moet vandag ’n kontantbedrag van R300 000 betaal voor hy vrygelaat word. Die res, R9,7 miljoen, moet teen 20 Desember as ’n waarborg by die hof ingedien word.

Tydens Nair se uitspraak het Nico, wat in die beskuldigdebank gestaan het, heeltyd voor hom gekyk en af en toe sy lippe gelek.

Nair het gesê die staat se saak is gegrond op omstandigheidsgetuienis en die verklaring van iemand wat in die hooggeregshof in Pretoria as ’n leuenaar uitgemaak is.

André Gouws, wat reeds skuldig bevind is aan die moord op Chanelle, het voor hy gevonnis is getuig dat Nico die baasbrein agter die moord is.

André en Nico is al 22 jaar bevriend. Nair het gesê die ondersoekbeampte, kapt. Peet van der Spuy, het in ’n verklaring gesê voor die moord op 8 November 2011 het Nico en André baie kontak gehad. Dié kontak het opgehou nadat André in hegtenis geneem is.

Nair het gesê hy maak die borgtog so hoog om seker te maak Nico sal sy sy verhoor bywoon omdat hy nie kan bekostig om so baie geld te verloor nie.

- Hilda Fourie