Nicki Minaj gaan American Idol ná net een seisoen verlaat.

Die Moment For Life-sangeres het glo besluit om nie na die werklikheidsprogram se beoordelaarspaneel terug te keer nie, want sy wil op haar eie musiekloopbaan konsentreer.

’n Bron het aan UsMagazine.com gesê: “Dis veilig om te sê sy kom nie na Idol toe terug nie. Sy is oukei daarmee. Sy het dit baie geniet, maar sou in elk geval net een seisoen gedoen het.”

Die 30-jarige rapper het saam met die nuwe beoordelaars Keith Urban en Mariah Carey by die deurwinterde beoordelaar Randy Jackson by die program aangesluit. Randy het onlangs bevestig hy gaan die program verlaat.

Daar is voorheen onthul die vervaardigers wil die program in die volgende seisoen vir die eerste keer in vyf jaar na die formaat van drie beoordelaars laat terugkeer om die dalende kykertal teen te werk.

Kevin Reilly, die vermaakvoorsitter van Fox, het ook onthul al die beoordelaars, Nicki inkluis, is teruggenooi.

Daar is wild bespiegel of Mariah en Nicki vir ’n tweede seisoen sou terugkeer nadat hulle ’n paar keer in die openbaar baklei het.

Mariah wou glo bedank weens hul vurige vetes.

’n Bron het voorheen gesê: “Nicki minag haar regtig en sy is so moeg daarvoor om heeltyd op haar tong te byt.”

“Sy is klaar daarmee. Sy het nie die platform nodig nie en al die drama is nie gesond vir haar nie.

“Sy het ook by die vervaardigers onder skoot gekom omdat sy nie krities genoeg oor die deelnemers is nie”

Dit is nog nie bekend of Mariah op die program wil aanbly noudat Nicki besluit het om te loop nie.