HY HET dieselfde uitwerking op meisietjies van 8, meisies van 18 en oumas van 80 – wanneer hulleNicholis Louw eers op die verhoog gewaar, maak geen ander man saak nie.

Die Evasgeslag bloos, snak na hul asem, hyg en gil; hulle ignoreer sommer hul kêrels en vergeet skoon van hul mans. Hulle kyk net vir die donkerkop met sy ondeunde seunsgesig en parmantige houding.

Geen wonder hy het pas die gesogte Tempo-eerbewys vir die gewildste manlike sanger van die jaar gewen nie–musiekliefhebbers raak skoon koorsig wanneer hulle hom sien optree.

Die donkerkop is lankal nie meer net ’n sanger nie; hy is deesdae vir derduisende mense ’n verslawing.

Ná sewe jaar van sing voor vroue wat oor hul voete val, ken Nicholis al van koes. Hy weet maar te goed sy aanhangers sal hom saam met hulle huis toe sleep as hulle kan. Vroue het al soveel bra’s – en selfs twee onderbroekies – na hom gegooi terwyl hy optree dat hy nie eens kan tel hoeveel stukkies onderklere al omhom op die verhoog geland het nie.

Twee wildvreemde vroue het hom al die jawoord gevra, en die huweliksaanbod was elke keer doodernstig. Soveel tienermeisies het hom al gevra om saam met hulle matriekafskeid toe te gaan dat hy maklik sy musiekloopbaan kan laat vaar en ’n professionele metgesel kan word.

’nVrou het eenmaal twee uur lank onder die tafel aan sy been vasgeklou terwyl hy ná ’n vertoning handtekeninge uitgedeel het. Elke keer dat iemand haar mooi gevra het om Nicholis se been te los, het sy haar arms stywer daarom geslaan.

Lees meer van Nicholis in die Huisgenoot van 5 Augustus 2010.

Op die internet:

http://www.facebook.com/nicholislouw

http://www.nicholislouw.co.za