Die gewilde sanger van Ek Wil My Baby Hê Vanaand het gisteraand die blye nuus op Facebook gedeel dat sy eersteling reeds 'n maand gelede onverwags haar opwagting gemaak het.

[caption id="attachment_109027" align="alignnone" width="600"]Nicholis Louw en sy vrou, Denise. Nicholis Louw en sy vrou, Denise.[/caption]

"Ons engeltjie is op 20 Augustus 2015 op 31 weke gebore, 'n hele nege weke vroeër as wat ons verwag het," het Nicholis Louw gesê. Hulle het besluit om haar Mianè te noem.

Nicholis en sy vrou, Denise, wou doelbewus die nuus oor die koms van hul babadogtertjie eers uit die media hou, sodat hulle hulself eers tyd kon gee "om te settle".

Hy het bygevoeg dat Mianè vir 'n tyd lank in die hoësorgeenheid opgeneem was. "Maar op ons knieë dank ons (nou) die Here dat baba en mamma albei 100% gesond en sterk is."

Mianè is uiteindelik by die huis, sê Nicholis. "Daar is geen woorde wat die emosies kan beskryf wat ons as ouers ervaar nie."

"Mianètjie is SO welkom in ons lewe en in die wêreld!"

Nicholis en Denise is verlede jaar Julie getroud.