Hy het die donkerpienk kelkblommetjies destyds in die derde Harry Potter-fliek, Harry Potter and the Prisoner of Azkaban, gesien en was dadelik gek daaroor.

Uit die tuinmaaktydskrifte wat hy elke maand slaafs koop – soos Garden&Home en SA Garden – het die sanger Nicholis Louw geleer dat ’n mens die blommetjies foxgloves (vingerhoedjies in Afrikaans) noem, en toe dadelik ’n klomp daarvan vir sy tuin aangeskaf.

En vanjaar, ná drie jaar, blom dit die eerste keer behoorlik.

‘‘Dis net jammer die hael het verlede week ’n paar van hulle stukkend geslaan,’’ sê Nicholis en neem een van die fyn kelkblommetjies versigtig in sy vingers.

Wie sou nou ooit kon dink dat tuinmaak die ander liefde in die gewilde musikant se lewe is? Maar hier in sy lushof in Pretoria is waar die 31-jarige sanger rus en vrede buite die kollig vind.

Wanneer hy die hoë gietysterhek met sy oordadige krulle agter hom toetrek, bevind hy hom in ’n sprokiestoneel met engeltjiebeelde, ’n houtstoel tussen die wortels van ’n ou boom en fonteine net waar jy kyk.‘‘Dis hier waar ek vir die wêreld wegkruip,’’ sê hy dan terwyl hy met sy tone in die gras woel.

Alles agter die hoë klipmuur is presies soos Nicholis daarvan hou. Daar is sewe fonteine, want dit bring rustigheid en is iets wat hy nog altyd begeer het, vertel hy. In die een hoek het hy ’n koi-visdam laat bou en oral agter die bosse veelkleurige blomme loer tuinbeelde speels na jou.

‘‘Ek is nie mal oor Pretoria se plantegroei nie; my tuin moet eerder ’n tropiese Lord-of-the-Rings-gevoel hê,’’ verduidelik die kaalvoetdonkerkop wat ontspanne in ’n kortbroek en T-hemp teen die houtbrug oor die visdam se reling leun.

En dit gaan vir hom oor die klein detail. Soos die grasgroen grondbedekker met die fyn, wit blommetjies wat groei tussen die groot klippe wat as ’n voetpad deur die tuin kronkel.

‘‘Dit gee ’n mens daardie Rooikappie-gevoel,’’ sê Nicholis, wat elke af en toe na ’n ander kindersprokie verwys om sy tuin te beskryf. En hier voel dwergies en feetjies sowaar nog na ’n werklikheid.

Lees meer oor Nicholas se passie vir tuinmaak in die someruitgawe van Tempo.